Makelaar wil polisse skuif oor kontrakte net in Engels is

(Argieffoto: pixabay)

ʼn Finansiële raadgewer van Pretoria sê hy gaan sy kliënte se beleggings van miljoene rande by Old Mutual begin wegskuif, omdat dié maatskappy kontrakte vir nuwe produkte uitsluitlik in Engels beskikbaar stel.

Die makelaar, met jarelange ondervinding in die bedryf, wil nie sy naam genoem hê nie om sy kliënte te beskerm.

“Ek het in my 35 jaar in die bedryf nog nooit ʼn Engelse mens gesien wat ʼn Afrikaanse kontrak onderteken nie. Tog word daar van Afrikaanse mense verwag om ʼn Engelse kontrak te onderteken,” sê hy.

Verskeie van sy kliënte is ouer mense en nie Engels magtig nie – veral nie op ʼn vlak waarop ʼn kontrak geskryf is nie. Hy sê daar kan ook nie aangeneem word dat alle produkadviseurs regsadviseurs is wat ʼn kwessie in verstaanbare terme aan iemand kan verduidelik nie.

“Ek werk baie met ouer kliënte – dikwels 75 en ouer. Sommige van hulle kan hulself dalk help in Engels, maar kan dit nie lees nie – nie eens ʼn gewone boek of koerantberig in Engels nie, wat nog van ʼn kontrak,” sê hy.

Vir hom is dit ʼn beginselsaak waaroor hy só sterk voel dat hy gaandeweg sy kliënte se polisse aan die maatskappy gaan begin onttrek.

“Ons het weens die Covid-19-pandemie die afgelope twee jaar gebars om polisse op die boeke te hou,” sê hy.

“Byna 80% van die besigheid wat ek ingegee het, was by Old Mutual. Dit is ʼn ontsaglike groot maatskappy. Ek gaan egter my besigheid begin wegskuif na maatskappye wat vra of jy ʼn kontrak in Engels of Afrikaans wil aangaan.

“Dit is honderde miljoene rande wat ek wil skuif. Ek kan dit egter nie oornag doen nie, want daar is baie kliënte betrokke.”

Uit korrespondensie met Old Mutual blyk dit dat kommunikasie oor bestaande produkte soos Flexi, Max Investments en Greenlight steeds in Afrikaans beskikbaar is. ʼn Nuwer produk, soos die maatskappy se Protect-polis, kan egter nie in Afrikaans verskaf word nie.

Die makelaar sê hy het groot begrip dat ʼn maatskappy soms vinnig met sy klante wil kommunikeer en dat dié korrespondensie dan in Engels is. Daarteen het hy ook geen beswaar nie.

Hy sê dit is egter uiters belangrik dat ʼn kliënt die kontrak wat hy aangaan, behoorlik verstaan.

ʼn Woordvoerder van Old Mutual sê die maatskappy besef dat die land 11 amptelike tale het en probeer dus altyd, waar moontlik, om met kliënte en makelaars in hul voorkeurtaal te kommunikeer – of dit nou tydens formele gesprekke of deur die oproepsentrum is.

“Ons vorms, kontrakte en polisse is egter op die oomblik net in Engels beskikbaar, omdat dit ons maatskappy se voorkeurtaal vir sakekommunikasie is,” het die maatskappy in antwoord op Maroela Media se navraag gesê.

“Dit is nie om teen enigiemand te diskrimineer wie se eerste taal nie Engels is nie, maar hoofsaaklik omdat dit ons help om ons kommunikasiestandaard konsekwent, eenvoudig, professioneel en in duidelike taal te hou.”

Afrikaans as regstaal

Dr. Annelise de Vries, ʼn dosent in Afrikaans en vakhoof: tale in die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia, sê in ʼn kontrak is taal uiters belangrik.

De Vries het haar doktorsgraad in toegepaste linguistiek behaal, met die fokus op forensiese linguistiek en taalbeplanning in die Suid-Afrikaanse regstelsel. Sy sê kontrakte bestaan uit taalhandelinge wat uiteindelik uitgevoer gaan word.

“Die uitvoer van dié taalhandelinge ontketen dikwels dispute, waarna daar dan weer na die taalgebruik van die taalhandelinge terugverwys moet word om dié dispute by te lê.”

Sy verwys onder meer na dispute oor versekeringskontrakte wat sakeonderbreking – weens die Covid-19-pandemie – dek en sommige versekeringsmaatskappye wat daarvan beskuldig is dat sakeonderbrekingsversekeringskontrakte dubbelsinnige gegewens bevat oor dekking tydens ʼn pandemie. Die gevolg was dat polishouers nie kon eis nie.

“Hierdie is ʼn voorbeeld van hoe belangrik taal in ʼn kontrak is en indien jy nie die taal waarin die kontrak geskryf is behoorlik – tot op die letter – verstaan nie, kan dit jou as verbruiker benadeel.”

Sy waarsku dat indien Afrikaans nie meer in die domein van die versekeringswese gebruik word nie, dit die gebruik- en ekonomiese waarde van die taal verminder en dat dit ʼn negatiewe spiraaleffek op hoër- en basiese onderwys in die taal het.

Internasionale navorsing wat die uitwerking van ʼn tekort aan meertaligheid in die ekonomie ondersoek het, het onder meer bevind dat meertaligheid ʼn bykomende waarde van 35% in die dienstesektor kan byvoeg.

Die navorsing het ook bevind wat e-handel betref wil “klante in hul eie taal bedien word. Hulle voel dit is veiliger om in hul eie taal te koop.”

Die makelaar met wie Maroela Media gesels het, sê hy gaan sy kliënte voortaan ook inlig oor watter maatskappye kontrakte in Afrikaans beskikbaar stel en dat hulle dit in ag kan neem wanneer hulle ʼn besluit oor ʼn produk maak. Hy sê verskeie ander beleggingsmaatskappye doen boonop groot moeite om te verseker hul webwerwe is meertalig.

“Engelssprekendes kan hulle speelgoed uit die kot gooi en sê hulle soek nie ʼn Afrikaanse kontrak nie, maar ʼn Afrikaanse mens durf dit nie sê nie,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Roedolf Johannes ·

Yppie Baie bly om te sien daar is iemand wat soos ek voel oor Afrikaans.Ek het opgehou om Bloed skenk agv van net Engelse vorms.Dit is hoog tyd dat ons Afrikaanse mense begin saamstaam

KatjieDeKat ·

Ek stem saam met hom. Maar terselfdertyd moet ek se, dis die heel beste om jouself te bekwaam in Engels. Engels is die “lingua franca” van die planeet. My ma het my op 4-5 jarige ouderdom leer lees en meer as die helfte was in Engels. Toe ek in Sub A (graad 1) kom, moes ek die juffrou help om die ander kinders te leer lees. Mens doen mens self nie n onguns aan om Engels so vroeg as moontlik te bemeester nie. Goeie kennis van Engels is ook noodsaaklik vir werk in ander lande, vir die wat gelukkig genoeg is om te kan wegkom.

Reynier ·

Ek verstaan wat jy bedoel Julia, en alhoewel ek Engels baie goed kan lees praat en skryf, bly ek ‘n Afrikaner, dit is my herkoms en identiteit. Elke dag word ons geskiedenis en identiteit stuk vir stuk uitgevee. Afrikaans is ‘n mooi taal met ‘n ryk en trotse geskiedenis. En het soveel aanslae in die verlede oorleef. Ons is dit aan ons voorouers verskuldig om seker te maak dit oorleef.

Grond ·

Julia as jy praat van “lingua franca” van die planeet het jy duidelik nie baie lande op hierdie planeet besoek nie. In die werklike lewe begin die mag van sogenaamde Engels sprekende lande al hoe minder te raak.

Conrad ·

Kort voor lank stig ‘n Afrikaner nog ‘n Ou Mutual om die gemeenskap te bedien. #gatindiemark Ek haal my hoed af vir dié sakeman, dis ‘n jammerte hy’s anoniem – sal graag wil ondersteun net oor dit waarvoor hy staan. Knap gedaan!

Marthinus W ·

In Rosettenville in die suide van Jhb, waar ek gebore is en grootgeword het, was die sakemense meestal Kantonese Chinese, Jode, Hindoes, Portugese [wat in 1975 uit Angola gevlug het], Grieke, en Moslem Indiers. En hulle het almal Afrikaans met ons gepraat, omdat ons die klant was – ons het die geld gehad. Hulle het die Engelse gesegde geken: He who pays the piper calls the tune.

Nettie ·

Hulle gebruik Engels om dit: “…eenvoudig, professioneel en in duidelike taal te hou.”
So dis nie moontlik om dit eenvoudig, professioneel OF duidelik in Afrikaans te doen nie, Old Mutual?? Is DIT wat julle sopas geimpliseer het?

Old Mutual, al is daar 11 amptelike tale, gaan dit tog oor die demografie van JULLE kliente. Hoeveel van julle kliente verkies Afrikaans as voertaal? Is DIT nie die belangrikste oorweging nie? Julle lewer tog ‘n diens, nie waar nie?

Dankie aan die makelaar wat opstaan vir ons Afrikaanssprekendes.

Gawie ·

My makelaarsfirma het onlangs besluit om alle hulle sake net in Engels te doen. Nou is hulle nie meer my makelaarsfirma nie.

Disdit ·

Dis onprakties en duur (vir die klient), om alle dokumente in 11 tale beskikbaar te stel, of moet alles net in Engels en Afrikaans beskikbaar wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.