Makhosi Khoza bedank uit ANC

Dr. Makhosi Khoza, ANC-LP (Foto: Facebook)

Die uitgesproke ANC-LP Makhosi Khoza het Donderdag haar bedanking uit die party aangekondig.

“Ek wil afskeid neem van die nuwe uitheemse en korrupte ANC. Ek bedank,” het sy tydens ʼn perskonferensie in Johannesburg en op sosiale media gesê.

“Vandag verlaat ek die ANC, maar ek sal nooit die ANC se waardes verlaat nie. Ek verlaat die ANC van Jacob Zuma. Die ANC is in sy kern uiters korrup. Hulle beskik nie oor die organisasievermoë om dit wat verkeerd is, reg te stel nie. Toekomstige generasies gaan sekerlik vra hoe dit tot op ʼn punt gekom het waar ʼn man wat 783 aanklagte van korrupsie in die gesig staar die party lei. Hoekom word ons deur kriminele gelei?”

Sy het gesê die ANC van veterane soos Nelson Mandela, Alfred Zuma, Ida Mntwana en Frene Ginwala is dood en die huidige party is ʼn skadu van sy voormalige self.

“Die ANC van Zuma het ʼn vinnig-rykwordskema geword terwyl ons arm mense by die dag armer word. Ek sal nooit my mense verraai nie. Vir dié wat vra wat my volgende skuif is, wees verseker dat ek nie by die DA gaan aansluit nie. Ek sal my planne bekend maak wanneer nodig. Amandla.”

Khozi se bedanking kom nadat die ANC in KwaZulu-Natal dissiplinêre stappe teen haar ingestel het omdat sy “die kernwaardes van die ANC blatant verraai het”. Khoza het in Julie by ʼn geleentheid wat as deel van Nelson Mandela-dag gehou is, ʼn beroep op Zuma gedoen om te bedank en gesê sy vind dit onuithoudbaar om gelei te word deur ʼn man wat daarvan beskuldig word dat hy vroue teister.

Sy het haar daarna verskeie kere teen Zuma en die huidige stand van sake in die ANC uitgespreek, dikwels op sosiale media. Khoza het egter nie Sondag vir haar dissiplinêre verhoor opgedaag nie.

Hoewel talle mense Khoza se uitsprake veroordeel, is daar ook baie wat haar loof vir haar dapperheid om op te staan teen dit wat sy glo verkeerd is.

Lees alle vorige berigte oor Makhosi Khoza op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

dries ·

Mag jou stywe rug ander inspireer om standpunt in te neem dokter. Wel gedaan!

AP ·

Dis jammer nou is daar net ja-broers oor .. sal almal moet ondersoek.

pieterdp ·

Ek weet nie of sy die komentaar kry nie. Daar is eerlike op regte swart mense. In die ANC seker een van die minste op wie jy jou kon vir trou. Sy het moed en durf. Mag sy voorentoe n plekie kry waar sy n vir andwring kan bring in die koripte regering.

Anneke ·

YOU GO GIRL!! Ek dink ons almal het op die punt gekom waar ons nie meer omgee wie die land lei nie, solank die persoon net die bekwame is met die regte waardes. Wat Suid-Afrika tot sy volle potensiaal kan dryf!! Wat die regte probleme op die regte manier kan oplos en die regte mense in sy/haar kabinet aanstel. Die wat dit waarlik verdien, en nie met bloedlyn nie maar ondervinding, onderrig en kennis!! ☺

AP ·

Blameer haar glad nie , net jammer so min van hulle staan op vir geregtigheid en korrupsie

gatvol ·

Ons is trots dat daar wel tog iemand in die korrupte ANC regering is wat kan standpunt in neem!!!
Shame, maar hoekom sal jy as Makhosi nie die DA wil join?? kyk net na die Kaap provinsie…sedert 1994 het die Wes Kaap nog nooit so verval?? Kyk ook die vorderings wat gemaak word in PTA EN JHB….Met jou goeie morele waardes sal jy n aanwins wees vir DA

Frederik ·

Jip, die kernwaardes van die ANC is korrupsie. Toe sy dit noem, wou hul dissiplinêre stappe teen haar instel. Wat ‘n korrupte vrot spul!! Hul leier het 783 klagtes van bedrog teen hom, 5 vrouens, ± 30 kinders ………………..Eish!!

Williew ·

Wat ‘n vrou!!! WAT “N DAPPER ONBAATSUGTIGE VROU!!!!
Stig jou eie party doktor,ek sluit aan!!!

Sterkte en mag God jou seen.
Groete
Willie

Hendrik ·

Lekker grappie. Ek dink egter dat die DA haar beslis gaan nader want daar is nie veel van ‘n verskil in beleidsrigting.

lollie ·

Inderdaad. Beslis ‘n aanwins vir enige party wat nie rasbehep is nie.

christa ·

Khoza is ‘n mens uit een stuk. Sy is iemand om op te reken

ne ·

Mooi so, darem baie bly om te sien daar is nie net vrot appels in die ANC nie.

Callie ·

Het dit n tyd terug genoem. Die vrou verdien respek. Selfs meer as Ghordan hulle wat aanbly vir die geld maar van hulle laat hoor. Die vrou is opreg en met integriteit. Stem saam. Dit is die tipe wat stemme sal trek.

MM ·

Baie dankie vir jou eerlikheid – en opstaan teen die KORRUPTE ANC PARTY – Sterkte vorentoe.

Theo ·

Dr Koza verdien nie net n Bell’s nie maar n hele bottel. Ek hoop sy dink daar aan om haar eie party te stig. Dit sal nogal intresant wees om te sien wat dit sal kan veroorsaak

willie ·

onthou eending, sy is anti korupsie ens, maar sy is nog pro ANC beginsels en dit is as jy weet wat dit beteken nie iemand wie ek in my midde wil verwelkom nie!

dance ·

Hoe dan nou Willie? Ons is die kluts kwyt! Ons wil mos he dat sy n party moet stig sodat ons kan aansluit.

willie ·

haar beginsels en myne verskil hemelbreed! nee dankie anti Zuma maak haar nie ñ engel nie!

Sarie ·

Ek stel voor dat sy saam met Adv. Thuli Modonsela ‘n nuwe party stig. Hulle sal ‘n gedugte span maak. Ek glo dat blankes ook vir hulle sal stem.

Ouma ·

Dankie tog daar is nog eerlike mense. Sy het opgestaan vir dit waarin sy glo ongeag die gevolge – sy is haar salaris kwyt. Sterkte en die zo voort.

Vermeende ·

Wag voor julle haar loof, dit is mos hoe COPE en die EFF tot stand gekom het, as sy twee jaar reruh dit gedoen het dan sou ek haar glo maar nie nou wanneer daar weer n verkiesing oppad is nie.
Glo dit maar, sy gaan haar eie party stig en soos COPE baie blankes om die bos lei.

Pine ·

Net jammer sy wil net veg vir swart mense soos sy in n vorige berig gese het. Sal beter gewees het as sy vir alle mense in SA wou doen.

Justice ·

Integriteit kan nie gekoop word nie – jy het dit of jy het dit nie. Dr. Khoza is beslis `n aanwins vir hierdie land en kan vorentoe weer `n rolspeler wees.

Alida ·

Baie respek vir haar deur haar eerlikheid. Hopenlik het sy ALLE bewyse van korrupsie op ‘n paar plekke gebere want die ANC is nou bang vir haar en gaan haar seer sekerlik uithaal. Dit is mos hulle styl. Maak die mense wat die waarheid praat dood dan is daar niks. Sy sal met haar oë moet oop slaap.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.