Makhosi Khoza se verhoor vind dán plaas

Dr. Makhosi Khoza, ANC-LP (Foto: Facebook)

Die uitgesproke ANC-LP Makhosi Khoza se dissiplinêre verhoor wat die afgelope naweek in Durban in KwaZulu-Natal sou plaasvind, is na 17 September uitgestel.

Mdumiseni Ntuli, die ANC se provinsiale woordvoerder, het dié nuus bevestig. Ntuli het gesê die datum vir die dissiplinêre verhoor is verander omdat Khoza se prokureur, Smanga Sithini, meer tyd versoek het om sy saak voor te berei.

“Haar verteenwoordiger [Sithini] het aan die ANC se provinsiale dissiplinêre komitee [voor wie Khoza moet verskyn] gesê hy is eers Sondagnamiddag aangestel,” het Ntuli gesê. Hy het gesê dít is in teenstelling met Khoza wat einde Julie aan die komitee gesê het sy beraadslaag met haar prokureur.

“Sithini het by die komitee gepleit vir meer tyd wat ons glo logies sin maak [aangesien hy eers Sondag aangestel is]. Die komitee het die versoek onwillig toegestaan. Die vergadering sal eerskomende Sondag om 09:00 op dieselfde plek plaasvind.”

Ntuli het gesê hy is teleurgesteld dat Khoza nié vir die verhoor of die voorverhoor opgedaag het nie aangesien die party haar sowat twee maande gelede reeds daarvan ingelig het.

Op ʼn vraag oor Khoza se Facebook-inskrywing dat sy moontlik uit die regerende party geskop sal word, het Ntuli gesê geen besluit is nog geneem nie. “Almal moet weet sy is nie afgedank nie. Sy is nóg ʼn geleentheid gegun om Sondag haar saak te bepleit. Daarbenewens het ons ook voorgestel dat sy Durban toe kom sodat die voorverhoor gehou kan word voor Sondag [om die kwessies eers informeel te bespreek].”

Hy sê die ANC was tot dusver “baie regverdig” met Khoza en boonop ook “in ooreenstemming met die party se grondwet”.

Khoza het Saterdag gesê sy onderhandel met die ANC om die tydstip van haar dissiplinêre verhoor te verander uit vrees vir haar lewe. Sy is bekommerd dat veiligheidsmaatreëls moontlik nié van toepassing mag wees in KwaZulu-Natal nie en dat sy dalk dieselfde lot te wagte kan wees as Sindiso Magaqa, voormalige sekretaris van die ANC-jeugliga, wat vandeesweek dood is ná ʼn skietvoorval in Julie.

Sy het gesê daar is ʼn patroon van mense wat geskiet word wanneer hulle van vergaderings terugkeer. Haar lewe kon dalk in groot gevaar wees aangesien dit reeds donker sou wees as sy die vergadering verlaat.

Khoza het toe nié Sondag vir die verhoor opgedaag nie. Sy het Sondag in ʼn ope brief op Facebook geskryf sy mag dalk teen Sondagaand “gestroop wees van die swart, groen en goue handelsmerk” omdat lede van dié party dit nie kan duld dat sy teen korrupsie en leuens is nie. Sy het ook gesê mense moet haar nie jammer kry nie, maar net hul deel doen om Suid-Afrika te red van “gulsige hartelose aasvoëls”.

Khoza het nog nié op die nuwe verhoordatum gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

vrikie ·

As die anc kaders maar net so presies met die land se grondwet omgegaan het as met hul eie

zoom zoom ·

Volgens die gwen in lethuli huis sal die anc nie optree teen die kaders wat teen stortkop gesyem het. Hoe nou. Val kzn anc nie ook onder gwen mie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.