Makhosi Khoza skop teen ANC-tugstappe

Dr Makhosi Khoza (Foto: ANA)

ANC-LP Makhosi Khoza het gesê sy gaan nie Sondag haar dissiplinêre verhoor bywoon nie, nadat die hooggeregshof in Pietermaritzburg beslis het dat die party se provinsiale leierskap ongeldig is.

“Slegs om daardie rede, buiten die ander foute in die dissiplinêre proses teen my, moet die hergeskeduleerde dissiplinêre verhoor nietig verklaar word en kan daar nie daarmee voortgegaan word nie. Enige ander optrede sal minagting van die reg en onwettig wees,” het sy Vrydagaand in ʼn brief geskryf.

“Enige moontlike dissiplinêre stappe kan dus slegs deur ʼn nuut aangestelde provinsiale uitvoerende komitee bepaal word, ná ʼn provinsiale verkiesingskonferensie plaasgevind en nuwe provinsiale ampsdraers aangestel is.”

Khoza het haar brief aan die voorsitter van die ANC KZN se dissiplinêre komitee Ravi Pillay, ANC-sekretaris-generaal Gwede Mantashe, ANC-hoofsweep Jackson Mthembu en speaker van die nasionale vergadering Baleka Mbete gestuur.

Die hooggeregshof in Pietermaritzburg het vandeesweek beslis dat die ANC se KwaZulu-Natalse verkiesingskonferensie in November 2015 ongrondwetlik was. Regter Jerome Dube het die konferensie en uitslag tersyde gestel.

Khoza het in haar brief gesê sy sal op ʼn behoorlike tyd haar verdediging hanteer.

“Dit is duidelik dat die ongeldige dissiplinêre verhoor teen my nie kan voortgaan nie en dat ek dus nie ʼn nietige proses hoef by te woon nie.”

Khoza is in Julie van, onder andere, beskuldig van swak dissipline, versuim om te voldoen aan ANC-beleid, dat sy verdeling saai en die party se naam skade berokken. Meeste van hierdie klagtes spruit uit plasings op haar Facebook-blad.

Sy is uitgesproke teen pres. Jacob Zuma en sy bevoegdheid om die ANC te lei. Haar gedrag word deur talle veroordeel, maar sy het ook ʼn groot groep ondersteuners.

Khoza het gesê sy het doodsdreigemente ontvang vir haar uitlatings en dat haar dogter se lewe ook al bedreig is.

Polisieminister Fikile Mbalula het Vrydag gesê die polisie het ʼn 17-jarige meisie van Gugulethu uitgeken as die persoon wat dreigemente aan Khoza en verskeie ministers gestuur het. Hy het gesê ʼn verband is gevind tussen die jong vrou en die Demokratiese Alliansie gebaseer op “inligting wat op sosiale netwerke publiseer is”, maar het bygevoeg die polisie het nie enige amptelike bewyse dat die meisie ʼn lid van die DA is nie. Die polisie het onderhoude gevoer met die meisie se ouers, maatskaplike werkers, en arbeidsterapeute by die plek van veiligheid waar die meisie aangehou word.

Die meisie het glo ook “sewe ander mense” gedreig wat lede is van die nasionale vergadering, insluitend kommunikasieminister Ayanda Dlodlo en minister van maatskaplike ontwikkeling Bathabile Dlamini.

Lees alle vorige berigte oor Makhosi Khoza op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

al ·

Ek stem saam jy hoef dit nie by te woon nie, hul het geen reg om jou te boelie nie.

madels ·

Jip, wie op aarde dink die ANC is hulle?! Hulle is nie die hof nie! Enigeen het die reg om te se wat hul van n ander dink, ou Jacob Zuma het sy land gefaal, hy het sy party gefaal, nou hoekom mag sy wat n ANC lid is nie haar opinie daaroor lig nie? Die ANC is nie God nie, al dink hulle hulle is

Blits ·

ek stem saam, al wat die ANC kn doen is om te boelie, kan niks opbou nie net vernietig

Hendrik ·

Die verband tussen die 17 jarige en die DA is dat beide sterk aanwesig is in die Wes Kaap! Dankie Frikkie, jy is ‘n baas speurder…

jaco ·

lekker om nou te kla oor “minagting van die reg en onwettig”. Maar voor sy begin kla het oor nonsens in die ANC, het sy stilgebly oor ongeregtigheid soos Gupta-bevoordeling (dit loop al van VOOR 2012), mors van belstingbetalers se geld op Nkandla ens ens. Waarom NOU eers oor alles kla? Sy het dit dan altyd met haar stilswye goedgekeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.