Makhosi Khoza toe nié by verhoor

Dr. Makhosi Khoza, ANC-LP (Foto: Facebook)

Die uitgesproke ANC-LP Makhosi Khoza het nie opgedaag vir ʼn dissiplinêre verhoor wat Sondag in KwaZulu-Natal by die regerende party se hoofkantoor sou geskied nie.

Khoza het Saterdag gesê sy onderhandel met die ANC om die tydstip van haar dissiplinêre verhoor te verander uit vrees vir haar lewe. Sy is bekommerd dat veiligheidsmaatreëls moontlik nié van toepassing mag wees in KwaZulu-Natal nie en dat sy dalk dieselfde lot te wagte kan wees as Sindiso Magaqa, voormalige sekretaris van die ANC-jeugliga, wat vandeesweek dood is ná ʼn skietvoorval in Julie.

Sy het gesê daar is ʼn patroon van mense wat geskiet word wanneer hulle van vergaderings terugkeer. Haar lewe kon dalk in groot gevaar wees aangesien dit reeds donker sou wees as sy die vergadering verlaat.

Mdumiseni Ntuli, die ANC se provinsiale woordvoerder, het Sondag gesê hy het wél die nuus aan haar oorgedra dat die vergadering om 09:00 sou begin en nié om 15:00 soos berig is nie. Hy het gesê aanvanklike berigte dat die verhoor om 15:00 sou begin, is nie akkuraat nie. Khoza het teen 11:00 Sondagoggend egter nog nie by die vergadering opgedaag nie.

Nomagugu Simelane-Zulu, hoof van die ANC se provinsiale dissiplinêre komitee [voor wie Khoza moet verskyn], het gesê die verhoor sal voortgaan selfs al daag Khoza nié op nie.

Khoza se prokureur, Smanga Sithini, het sowat ʼn driekwartier ná die aanvang van die vergadering by die ANC se hoofkantoor aangekom, maar wou nie met die media praat nie.

Simelane-Zulu het gesê haar prokureur sal die vergadering namens haar bywoon en die komitee laat weet hoe sy wil pleit.

Volgens hom is Khoza se versoek om die vergadering te skuif uit vrees vir haar veiligheid nie deur die dissiplinêre komitee verwerk nie. Sy het Saterdag gesê sy het aan Gwede Mantashe, die ANC-sekretaris-generaal en die ANC-leierskap geskryf, maar hulle het haar versoek van die hand gewys. Hy het gesê dit was ʼn saak wat sy met die komitee moes opneem.

Sy is in Julie vanjaar deur die party aangekla omdat sy glo versuim het om die ANC se beleid te respekteer, verdeeldheid in die party veroorsaak en onenigheid in die party teweeggebring het. Die party het gesê minstens een van dié klagtes teen haar is met verwysing na ʼn inskrywing op haar Facebookblad waarin sy die party openlik kritiseer.

Die paaie buite die ANC se hoofkantoor was Sondag afgesper as veiligheidsmaatreël.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Drieks ·

Dr Khoza, wil jy met jou lewe boet vir die naam Anc terwyl hul bewind die grootse misdaad in Suid Afrika gebring het “moord, aanranding ens…”.

donker duiwel ·

Ja nee . Sy is wel bewus van die Modus Operandi van die ANC

·

Sy het haar demokratiese reg uitgeoefen maar moes volgens die ANC nie hulle ‘reëls en regulasies en HULLE grondwet’ verontagsaam het nie. Ek sou reken die Suid-Afrikaanse Grondwet waar demokrasie in vervat word is belangriker. Dr Khoza, jy het my simpatie en ek sou ook nie die ‘sogenaamde dissiplinêre verhoor’ bygewoon het as my lewe in gevaar is nie. My lewe en jou lewe is belangriker as enige politieke party of organisasie. Sterke.

·

Sy het haar demokratiese reg uitgeoefen maar moes volgens die ANC nie hulle ‘reëls en regulasies en HULLE grondwet’ verontagsaam het nie. Ek sou reken die Suid-Afrikaanse Grondwet waar demokrasie in vervat word is belangriker. Dr Khoza, jy het my simpatie en ek sou ook nie die ‘sogenaamde dissiplinêre verhoor’ bygewoon het as my lewe in gevaar is nie. My lewe en jou lewe is belangriker as enige politieke party of organisasie. Sterke.

donker duiwel ·

Hierdie mense laat my lag. Selfs hulle is bang vir die donker in die Nuwe S.A.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.