Makhura meen DA ‘probeer net ANC namaak’

Gauteng-premier David Makhura (Foto: ANA)

David Makhura, premier van Gauteng, het Vrydag gesê die “giftige koalisie” tussen die DA en die EFF is ʼn desperate poging van die opposisiepartye om beheer van Gauteng by ʼn “hernude” ANC af te neem.

“Die DA probeer die ANC namaak. Alles wat hulle doen, doen hulle om ʼn beter party as die party van Nelson Mandela te probeer wees. En soos hulle dit doen, vervreem hulle hul liberale en konserwatiewe ondersteunersbasis. Die DA is ʼn party wat ʼn krisis van identiteit en liberale gewete moet trotseer. Hulle het ʼn identiteitskrisis. Hulle is ‘fon kongs’ [vals],” het Makhura gesê.

Hy het dié uitsprake gemaak terwyl hy die ANC in Gauteng se politieke verslag in Pretoria gelewer het.

Volgens Makhura is die informele nedersettings in gebiede waar die DA en ander opposisiepartye oorgeneem het in ʼn slegter toestand as vantevore. Hy het spesifiek verwys na waterprobleme in Kaapstad en Hammanskraal noord van Pretoria.

“Hulle probeer hulself uitbeeld as ʼn party wat aan hoër standaarde voldoen, maar hulle stel ongekwalifiseerde mense aan. Daar is voortdurend ʼn onderbreking in die kragtoevoer in Tshwane en Johannesburg weens ʼn gebrek aan instandhouding. Dit is wat die inwoners tans ervaar.”

Makhura het daarna sy aandag op die EFF gevestig en gesê die rooi party word bedryf op grond van “populisme, anargie en demagogie”.

“Die party gedy op dreigemente, beledigings, vrees [en] hopeloosheid, veral onder die jeug. Al hierdie dinge word verder aangevuur deur reuse-ongelykheid, akute armoede en massiewe werkloosheid. Dit is aanduidend van die skouspelagtige mislukking van ons demokratiese oorgang om maatskaplike geregtigheid en gelykheid te lewer.”

“Ons moenie te veel daarop fokus en te veel tyd afstaan om te praat oor of die EFF moet terugkom huis toe [na die ANC] nie. Kom ons fokus op die werklike probleme. Die ANC moet oral wees, insluitend daar waar diensleweringprobleme ervaar word. Die takke van die ANC moet die beskermhere van die provinsie wees en as ons dit doen, comrades … hoe minder daar dan oor die EFF gesê word, hoe beter,” het Makhura gesê.

Opposisiepartye wat deur die DA gelei word, is tans in beheer van Stad Tshwane, Stad Johannesburg en Nelson Mandelabaai. Die opposisiepartye het ná afloop van die 2016-verkiesing by die ANC oorgeneem nadat die regerende party aansienlike steun in die gebiede verloor het.

Makhura het bygevoeg die jongmense in die ANC moet dieselfde energie en radikale manier van doen as die EFF hê. Hy het gesê ʼn krisis staar die ANC se alliansie-studenteorganisasie Sasco in die gesig by universiteite en kolleges waar die radikale EFF-studente-organisasie al meer gewild raak.

“Kampuspolitiek is in ʼn krisis, want tersiêre instansies raak toenemend radikaal. Die ANC se politiek op kampusse is aan die afneem. Ons moet terugkeer na die beplanningstafel en saam met Sasco werk om meer invloed onder studente te hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

David ·

Nee Makura, die DA was die eerste om gratis Antiretrovirale te begin gee, die eerste om gratis basiese elektrisiteit en water te voorsien, die eerste om titelaktes te begin gee, hulle doen iets aan korupsie en daar is seker nog baie voorbeelde… kyk weer bietjie mooi wié is dit wat wie naboots.

Cherokee ·

Met ander woorde Makura, die DA se stemwerwingstaktiek is slimmer as diè van die ANC.

Hanna Hoekom ·

Wat rook die man? Moet iets baie sterk wees… Dalk tik? En hy woon beslis nie in Suid-Afrika nie.

Cherokee ·

Stem nie, sê jy Marissa? Nie eens vir die VF+ nie? Doen dit asseblief… stem VF.

Penellope Jones ·

Ag tog, dis maar swaar en hard as mens elke liewe dag selfregverdiging moet toepas . . . . . . . .
Skraal denkvermoe, skraler realiteit, nog skraler toekomsvisie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.