Makhura ontken betrokkenheid by Tembisa-skandaal

Gautengse premier, David Makhura. (Foto: Twitter)

Die Gautengse premier David Makhura het Vrydag bewerings dat hy óók by die Tembisa-hospitaalskandaal betrokke is, heftig ontken.

The Star het Vrydag berig die Independent Liberation & Allied Workers Union het ʼn beroep op die Valke gedoen om Makhura te ondersoek vir sy beweerde betrokkenheid by onreëlmatige tenders. Hy het ook glo gekonkel om Tembisa-hospitaal se uitvoerende hoof Ashley Mthunzi te laat verwyder en moontlik kennis gedra van hoe die hospitaal as ʼn geldkoei vir die ANC gebruik is.

Die vakbond vra ook dat Sello Sekhokho, tesourier van die ANC in Ekurhuleni, ondersoek word nadat die hospitaal hom glo R15,5 miljoen vir 55 kontrakte oor drie jaar betaal het.

“Ek beskou hierdie aanklagtes as deel van ʼn smeerveldtog deur ʼn kriminele netwerk wat daarop uit is om die aandag van die ondersoek na bedrog by Tembisa-hospitaal af te lei,” het Makhura Vrydag gesê. “As iemand wat ʼn openbare amp beklee, verwag ek om gekritiseer te word, maar ek sal nie toelaat dat hierdie ongegronde bewerings sonder teenstand verbygaan nie.”

Mthunzi en Lerato Madyo, die departement van gesondheid se finansiële hoof, is verlede maand tydelik en met onmiddellike inwerkingtreding geskors in ʼn poging om hulle te verhoed om by die ondersoek na ʼn bedrogsaak van R850 miljoen by die hospitaal in te meng. Babita Deokaran het destyds oor dié bedrog alarm gemaak en is kort daarna vermoor.

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) is deur die provinsiale regering aangestel om ʼn forensiese ondersoek uit te voer na die aantygings van onbehoorlike verkryging- en betalingsprosesse by die hospitaal. Makhura het Vrydag gevra dat die SOE toegelaat word om hul ondersoek af te handel sodat dié wat by korrupsie betrokke was, vir hul dade aanspreeklik gehou kan word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Waarnemer ·

Korrupsie het gdkom om te blh…totdat die a en die c en effies en hul boeties verwyder word.

H.A. ·

Hulle ontken ALTYD alles. Dit is waar hulle op hulle skuldigste is

Nie Verbaas ·

Erstens Makhura, jy weet dat as n mens nie baie intelligent is nie hy/sy nie sal kan onderskei tussen reg en verkeerd nie. Tweedens, dit lyk of dit n voorvereiste van enige ANCer is om altyd die lafhartige roete te volg en te ontken dat jy iets verkeerd doen. Ons ly egter nie almal aan intellektuele gestremdheid nie.

SjN ·

Klomp tarentale, almal lyk en is van dieselfde stofasie gemaak.

Chris dupreez ·

Hy oefen so lank vir sy pos as vise president van die land

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.