Makhura se nuwe LUR’e ‘boesem nie vertroue in’

David Makhura, premier van Gauteng. Foto: GCIS

Nie die DA óf die VF Plus is danig beïndruk met verskeie van die Gautengse premier, David Makhura, se uitvoerende raadslede nie.

Makhura het sy nuwe LUR’e Woensdagoggend bekend gemaak. Hulle word môre beëdig.

“Dit is kommerwekkend, maar nie verrassend nie, dat die lys ʼn hele klomp individue insluit met ʼn treurige geskiedenis in die staatsdiens,” het Solly Msimanga, die DA se koukusleier in Gauteng gesê.

Die VF Plus het in reaksie op Makhura se LUR’e gesê hulle “boesem nie veel vertroue in om ʼn beter toekoms te skep vir Gauteng en sy inwoners nie”.

Msimanga het die aanstelling van Faith Mazibuko as LUR vir gemeenskapsveiligheid as ʼn “absolute ramp” bestempel. Mazibuko, voorheen die LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning, was vroeër vanjaar in die pekel nadat ʼn klankgreep waarin sy op werknemers skree aan die lig gekom het.

In die opname skree ʼn woedende Mazibuko: “Dit is duidelik dat julle nie gereed is om in dié omgewing te werk nie. Julle beter julle werk doen of waai … watter ander departement het ʼn wit vrou as hoof van die departement? Niemand, behalwe nasionaal nie. Dit is hoekom sommige departemente nie ʼn Indiese of wit vrou soek nie … en dit gaan nie oor rassisme nie,” het Mazibuko destyds uitgevaar.

Die VF Plus het ook Mazibuko se aanstelling veroordeel.

“Sy is bekend vir haar rassistiese opmerkings teenoor senior amptenare van haar vorige departement waaroor die VF Plus ʼn klag teen haar by die Menseregtekommissie ingedien het. Dit is ʼn skande dat die ANC ʼn persoon wat skuldig bevind is aan rassistiese optrede, op dié wyse beloon,” het adv. Anton Alberts, die VF Plus se koukusleier in die provinsie, gesê.

Panyaza Lesufi, voorheen die omstrede LUR vir onderwys in Gauteng, is voortaan LUR vir finansies en e-regering. Die VF Plus het sy verwydering uit die onderwysportefeulje as die enigste ligpunt verwelkom.

“Lesufi se plasing skep egter nuwe onsekerhede omdat hy voorheen gewys het hy is nie in staat om sy departement behoorlik te bestuur nie. Nou is hy weer in ʼn baie belangrike pos aangestel,” het Alberts gesê.

Die DA het Lesufi ʼn “feitemasseerder” genoem en sy kennis van finansies bevraagteken.

“Die aanstelling van Lebogang Maile as LUR vir menslike nedersettings en samewerkende regering en tradisionele sake is sonder twyfel die verkeerde besluit. Agtereenvolgende LUR’e het dié portefeulje wanbestuur en die provinsie se behoeftiges haweloos gelaat,” het Msimanga gesê.

Msimanga het gesê Jacob Mamabolo se nuwe rol as LUR vir paaie en vervoer laat ook veel te wense oor. “In sy vorige hoedanigheid as LUR vir infrastruktuurontwikkeling het sy vele toesprake en grootpratery weinig opgelewer.

“Verskeie van die ander LUR’e is nuwelinge en moet eers hul vermoëns bewys om Gauteng se ingewikkeldhede en behoeftes te verstaan.”

Msimanga het gesê die ANC het ʼn klein meerderheid in die provinsie en gaan nie enige kans hê om sy verantwoordelikhede te ontduik, “soos wat die party al herhaaldelik in die verlede gedoen het nie”.

Alberts het gesê die ANC se meerderheid van ʼn enkele setel in die Gautengse wetgewer bied aan die VF Plus die geleentheid om strategies met ander partye saam te werk om te verseker die ANC neem nie verkeerde besluite nie, en ook om sy eie mosies en wetgewing deur te voer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

D B ·

Liewe vader, het die VF+ nou ook soos die DA hulle kop verloor?

‘n Meerderheid is ‘n meerderheid, of dit nou 1 setel, 2, of 10 is. Ons almal weet die klomp goed sal bly saamstaan, dis hoekom ons is waar ons is!

Gert van Wierdapark ·

Miskien moet daar nie te kras op die Premier se aanstelling gehandel word nie. Onthou die potensiele LUR voor en agterbankers is klaarblyklik dun gesaai want die ou wat geplant het, het vergeet om Nat te lei/ly??!

Dell ·

Jippie, Lesufi gaan nie verder ons kinders se lewens verwoes nie! ek haat nie maklik nie, maar daar is ‘n spesiale plekkie. Seker nie te opgewonde raak oor die volgende duiwel by die skole nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.