Makliker toegang vir misdaadslagoffers tot paroolverhore versoek

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het versoek dat slagoffers van misdaad en hul naasbestaandes makliker toegang verkry tot die bywoning en/of lewering van skriftelike voorleggings by paroolverhore.

Die versoek is in ’n skrywe aan Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, gerig.

AfriForum het ook ’n verslag saamgestel oor die regte wat misdaadslagoffers of hul naasbestaandes in dié verband het.

Natasha Venter, bestuurder van veldtogte by AfriForum, sê dié burgerregteorganisasie het bewus geword van verskeie misdaadslagoffers wat nie na behore betrek word by die paroolverhore van hul oortreders nie.

Sy wys daarop dat slagoffers en hul naasbestaandes ingevolge die Dienshandves vir Slagoffers van Misdaad in Suid-Afrika sekere regte het in terme van paroolverhore.

Dié regte behels dat die polisie, aanklaer en korrektiewe beampte maatreëls in plek moet hê om seker te maak dat enige bydrae wat ’n misdaadslagoffer of naasbestaandes wil maak, in aanmerking geneem moet word by ’n misdadiger se paroolverhoor.

Die hof moet ingevolge die handves ook die slagoffers of hul naasbestaandes in kennis stel dat hulle ’n reg het om voorleggings te maak wanneer ’n misdadiger vir parool oorweeg word en dat hulle die paroolverhoor mag bywoon indien die misdadiger sekere gelyste misdade, waaronder moord en verkragting, gepleeg het.

Slagoffers wat ’n bydrae wil lewer moet die paroolraad skriftelik in kennis stel indien hulle aan dié proses wil deelneem.

“AfriForum is egter bewus van verskeie gevalle waar die kennisgewings wat per pos gestuur is nie beantwoord word nie. Daar is ook geen e-posadres op die tersaaklike regeringswebtuiste nie en verskeie pogings om die kontaknommer op die webtuiste te skakel, was onsuksesvol omdat die oproepe nie beantwoord word nie,” sê Venter.

“Die wetgewing en regulasies sit die regte van slagoffers en hul naasbestaandes baie duidelik uiteen. Ongelukkig blyk dit dat hierdie regte nie in alle gevalle deur die departement gerespekteer word nie. Ons lees slegs van sekere hoëprofielsake waar misdaadslagoffers by die paroolproses betrek word.”

AfriForum het dus nou versoek dat die minister ’n e-posadres beskikbaar stel wat deurentyd beman word. Daar is ook versoek dat Lamola verseker dat misdaadslagoffers aan paroolverhore kan deelneem sou hulle dit wou doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danny ·

Totale wetteloosheid – net soos die res van ons stelsels in SA. Waar??! Slegs in SA..

Pieter J ·

Ek is glad nie ten gunste van hierdie reĕling dat misdaadslagoffers paroolaansoeke mag bywoon nie. Die ANC het reeds vele male dit misbruik om onregverdig teen blanke gevangenis te diskrimineer vir politieke gewin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.