Makwakwa-skorsing: Regstappe volg dalk oor verslae

Jonas Makwakwa, hoof vir sake- en individuele belasting by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). Foto: http://www.sars.gov.za/

Die DA het Sondag gesê hy sal regstappe oorweeg indien Tom Moyane, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), nie binne die volgende dag of twee die Lovells- en Motau-verslae bekendmaak nie.

Die DA het aan Yunus Carrim, die voorsitter van die parlement se staande komitee oor finansies, geskryf om hom te vra om Moyane te versoek om die verslae van Hogan Lovells en adv. Terry Motau oor Jonas Makwakwa voor 13 Maart bekend te maak.

Alf Lees, woordvoerder vir die DA, het gesê Moyane moet na verwagting op 13 Maart voor die komitee verskyn en dit is noodsaaklik dat dié verslae betyds ingedien word sodat die parlement sy oorsigtelike rol kan vervul oor die omstrede omstandighede waarin Makwakwa weer as die tweede-in-bevel by die SAID aangestel is.

“Indien Moyane nie hierdie verslae indien soos versoek nie, sal ek die parlement versoek om regstappe te oorweeg om hom te verplig om die verslae bekend te maak,” het Lees gesê.

Maroela Media het vroeër berig Makwakwa is aanvanklik geskors hangende ʼn ondersoek na “verdagte en ongewone betalings” van altesaam R1,2 miljoen, wat tussen 2010 en 2016 in sy persoonlike rekening inbetaal is. Die SAID het destyds gesê hy het ʼn onafhanklike internasionale regsfirma, Hogan Lovells, aangestel om dié bewerings te ondersoek.

Motau is daarna aangestel as die voorsitter van die dissiplinêre proses teen Makwakwa, wat gegrond was op Hogan Lovells se verslag.

Makwakwa se skorsing is in Oktober verlede jaar in ʼn omstrede besluit weer opgehef, gegrond op die inligting vervat in die verslag deur Hogan Lovells. Dit was ondanks die feit dat dié verslag glo nie ondersoek ingestel het na die bewerings wat oorspronklik aanleiding tot Makwakwa se skorsing gegee het nie.

“Moyane het alles in sy vermoë gedoen om Makwakwa te beskerm, dermate dat hy selfs die parlement mislei en moontlik gelieg het, soos die Daily Maverick op 7 Maart berig het,” het Lees gesê.

Die DA sal seker maak dat daar tydens Moyane se verskyning voor die komitee van die geleentheid gebruik gemaak word om hom aanspreeklik te hou oor hoekom Makwakwa weer aangestel is nadat hy geskors is oor ernstige bewerings van betrokkenheid by onwettige aktiwiteite en finansiële misdade.

“Moyane moet verstaan dat die aap uit die mou is. Sy pogings om die bekendmaking van die Lovells- en Motau-verslae verder te vertraag, veroorsaak net twyfel oor sy geskiktheid om voort te gaan om die inkomstediens te lei,” het Lees bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

zoom zoom ·

Ek sal graag wil weet waar die DA al die fondse bekom omet allrs ma die hof te wil neem. Pleks sort hulle eers hulle eie DA gemors uit voordat hulle begin om almal om hulle te wil dagvaar. 2019 gaan hulle agterkom hulle het baie stemme verloor agv hulle eie swak prestasies

KP ·

Ek wil dit net weer bevestig hierdie land is n KORRUPTE NES en die ANC sal nie instaat wees om dit uit te roei nie. Met Ramaphosa aan stuur is dit soos n sinkende skip net met ander kaptein aan stuur.

Casper Labuschagne ·

Die goeie skip SAS 1994 gaan verseker sink. As dit nie sink onder vlag van die ANC nie, sal dit gebeur na die volgende verkiesing na 2019 as Malema kaptein van die skip word. Ons vermoë om enigiets aan of die stuurman of rigting van die skip te doen is uiters beperk. Al waaroor ons ‘n eie keuse kan uitoefen is deur te besluit dat ons minderheid nie saam met die skip sal sink nie, en te bou aan ‘n reddingsboot, of dit nou emigrasie of selfbeskikking sal wees.

marous ·

Die land is by riool status verby , en niemand gaan dit regmaak nie!

Sarel Strydom ·

Met gedurige kommentare soos die het hierdie land of ons mense nie die ANC of EFF of enige Politieke Party nodig om ons graf te grawe nie. Ons doen dit self.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.