Inwoners van Malamulele in Limpopo het Maandag ʼn ses week lange betoging in die gebied opgeskort.
“Ons het met 14 belanghebbendes gesels en besluit om die betoging tot Augustus op te skort,” het die gemeenskapsleier Isaiah Ndhambi gesê. Die inwoners se taakspan, wat die betoging gereël het, sal in Augustus met Pravin Gordhan, minister van samewerkende regering, vergader wanneer die regering nuwe samestelling van munisipaliteite ondersoek.
Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie sal steeds ʼn ogie hou oor die gebied. Sy kon nie sê hoe lank die polisie die dorp sal monitor nie.
Inwoners in die gebied eis hul eie munisipaliteit. Die Munisipale Afbakeningsraad het in Januarie aangekondig dat Malamulele nie kwalifiseer vir sy eie munisipaliteit nie. Die betogings het verlede jaar net voor die algemene verkiesing in Mei begin en het weer ʼn maand gelede opgevlam.
Inwoners voer aan die Thulamela-munisipaliteit kanaliseer sy dienslewering aan die Tshivenda-sprekende gedeeltes, in plaas van hul eie Xitsonga-sprekende dele.
Vier skole is al sedert Januarie aan die brand gesteek.
Lees alle vorige berigte oor Malamulele op Maroela Media.