Malaria in Limpopo: Huidige stand

Argieffoto. Foto: Pixabay.

Argieffoto. Foto: Pixabay.

Thabiso Teffo, woordvoerder van die departement van gesondheid in Limpopo, het Sondag aan Maroela Media gesê teen Vrydag was daar 46 gevalle van malaria in dié provinsie aangemeld.

“Al hierdie gevalle is van mense in die Lephalale- en Waterbergreeks-omgewing wat nog nooit in ʼn malariagebied was nie. Dis een van twee gevalle, dis of ‘taxi’-malaria wat mense gekry het deur muskiete wat in iemand se tas of motor na ons toe gekom het of deur die rivier,” het Teffo gesê.

Volgens Teffo het die departement reeds monsters uit die Lephalale-rivier geneem om vas te stel of dit die moontlike oorsaak kan wees. “Mense kan gerus wees,” het hy gesê, “ons het die situasie onder beheer. Die hospitale op die grense tussen lande is ook in kennis gestel en weet om mense met spesifieke simptome te toets.”

Teffo het mense gemaan om by hulle plaaslike dokter of hospitaal aan te meld en te vra om vir malaria getoets te word as hulle griepsimptome ervaar.

Riekie en Johan Fuls. Foto's aan Maroela Media verskaf.

Riekie en Johan Fuls. Foto’s aan Maroela Media verskaf.

Maroela Media het vroeër berig oor twee mense wat tans in die Life Peglerae-hospitaal in Rustenburg lê met malaria. Nie Johan Fuls (70) of Johann Lambrechts (21) was al voorheen in ʼn malariagebied nie.

Nicolene Fuls, Johan se dogter, het aan Maroela Media gesê dit het Sondagoggend baie beter gegaan met haar pa. “Sy bloeddruk is terug na normaal en sy suiker is nou onder beheer hoewel die dokters sê dat hy nou vir die res van sy lewe insulien gaan moet gebruik,” het Fuls gesê.

Fuls is steeds in die hoësorgeenheid van dié hospitaal. “My pa wil net huis toe gaan,” het sy gesê. Haar ma is op 12 Februarie in dieselfde hospitaal oorlede aan malaria. “Daar is intussen ʼn klomp toetse gedoen en hulle het vasgestel dat dit ʼn soort malaria was wat jou serebraal aantas en ook jou rooibloedselle aantas, gelukkig het my pa net die soort wat jou rooibloedselle aantas.”

Volgens Fuls was daar beamptes van die departement van gesondheid op die plaas om monsters te kom neem van die muskiete op die plaas. “Hulle het glo net gewone muskiete gekry. Hulle was egter nie in die vlei waar al die muskiete eintlik voorkom nie omdat hulle glo nie reg aangetrek was nie. Hulle het gesê dat hulle volgende week weer sal kom om verder ondersoek in te stel,” het Fuls gesê.

Johann Lambrechts. Foto: Verskaf.

Johann Lambrechts. Foto: Verskaf.

“As ek nou daaraan terugdink het my ma in die tyd wat sy so siek was nog vir my vertel van die groot avokado’s wat aan die boom buite die venster hang. Dit was nie eens ʼn avokadoboom nie – ons het so gelag daaroor. Ek besef nou dat sy moes hallusineer want sy het verlede jaar Augustus ʼn groot heupoperasie gehad en kon nie eers opstaan nie,” vertel Fuls.

Maroela Media het ook berig oor Johann Lambrechts (21), die professionele jagter van Northam in Limpopo, wat ook met malaria in dié hospitaal opgeneem is nadat sy werkgewer hom bewusteloos in sy woning aangetref het. Johann Lambrechts sr, Johann se pa, het Sondag aan Maroela Media gesê dat dit “met genade van bo baie beter gaan met sy seun”.

Johann is steeds in die hoësorgeenheid van die hospitaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

John ·

Genade dat ons winter nou kom wat hopelik die peste sal uitwis.

em ·

Ek glo g’n hierdie taxi-muskiet storie nie! Twee of drie gevalle, ja maar so baie, aikona. Em

Elisabeth ·

Nee dit kan nie net een Anopheles muskiet veroorsaak word nie al is sy vektor. Muskiete lê hulle eiers net in water en die larves is net onder watervlak. So al is daar droogte bedek die water as it in houers staan. Dis waar water lê of stil staan.

MP ·

Toe ek dit die eerste keer hoor het ek onwillekeurig gedink – Bill and Malinda Gates Foundation… wonder hoekom?. Dieselfde met die laaste ebola epidemie in sentraal- en noord-Afrika, daar is menings daar buite dat dit ooreengestem het met immuniseringsvedltogte van die VN en “WHO”. Google bietjie Yoichi Shimatsu se 2014 artikel in die Liberian Observer.

Conrad.T ·

Ek was te bang om dit te se- eks besig met n studie oor “de population” en hul metodes.
van vigs, ebola tot muskiete, droogte en hongersnood- tot genocide, dis alles georkestreer.
HOE is dit montlik dat die egpaar twee verskillende soorte malaria het, ter selfdertyd? Een serebraal en die ander nie? Is hulle op dieselfde tyd deur 2 verskillende tipes muskiete gesteek? Glo nie.

Cecilia. D Tjaden ·

MP, ons google dit, maar kry geen verband nie? wat is die skakel asb? dankie.

Elisabeth ·

Ek weet nie hoekom Maroela nie sketse plaas van die lewen siklus van malaria nie. Dis nie ‘n geheim nie en almal behoort dit te ken. Dit sal bog praatjies stuit.

Ons weet en verstaan dat nie almal toegang tot die internet het nie, http://www.cdc.gov/malaria sal vir julle ‘n skets gee of google net Malaria life cycle.

Die vroulike anopheles muskiete dra die plasmodium [malaria virus]. Hulle word vektor’s genoem . Hulle kos is bloed. Hoe die muskiet oorleef is dat hulle hul eiers in die water lê [stil staande water of vlei of in houers waar water gestoor word]. Die dan ontwikkel die muskiet net onder die water oppervalk. Kos is bloed [want sy is ook ‘n parasiet] kom sit hier op jou en eet. Jy het miskien malaria maar glad nie siek geword nie. So daar trek sy nou die virus in haar en daar is ‘n siklus tot haar volgende ete. Eina jy is gebyt maar ingeval die muskiet die virus het is jy nou besmet. Kort en lang vd storie.

Jaco Grobler ·

Een van die groot redes vir toeriste besoeke aan die Waterberg area is omdat dit Malaria vry was, omtrent elke oord het dit op sy webblad, hierdie kan die plaaslike ekonomie lelik knou, die reaksie van die owerheid op die gevalle tot dusver was redelik goed, maar ek bly wonder wat is die laaste dekade of twee gedoen met die voorkoming van die pes?

foxi ·

Met die skool vakansie gaan ons as gesin vakansie hou in Warmbad. Sal dit veilig wees vir my gesin? Weet enigeiemand miskien……….?

Anoniem ·

Jy is veilig foxi en as jy dalk muskiete hoor gebruik Tabard op jou lyf en spuit Doom vir muskiete in die lug.

M'Lady ·

Ongelukkig met die land wat n “free for all” geword het gaan hier nog baie erger siektes uitbroei. N Dlamini-Zuma het mos al voorgestel dat Afrika een groot land moet word sonder grense.

What a joke! ·

Ja nee wat n sirkus met narre en al so die zumas aan die spits…genade

Deon ·

Ons woon al baie jare in Ellisras langs Limpopo rivier. In die verlede is alle huise langs die rivier bespuit, maar dit word net nie meer gedoen nie!!! Hoekom was dit in die verlede gedoen?

Anoniem ·

Jy moet onthou daar was toe kapitaal gewees vir gifstof. Nou beland daardie kapitaal in sekere mense se sake Deon en hulle ry lang slap karre.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.