Malaria: Nog gevalle aangemeld

Johann Lambrechts. Foto: Verskaf.

Johann Lambrechts. Foto: Verskaf.

Johann Lambrechts (21), ʼn professionele jagter van Northam in Limpopo, is ook in die Life Peglerae-hospitaal in Rustenburg opgeneem met malaria. Hy is tans in isolasie.

Sy pa, Johann Lambrechts sr, het aan Maroela Media gesê dit gaan vandag baie beter met hom. Johann het gekla van verkoue en het verlede Maandag sy werkgewer gebel om te sê hy kan nie gaan werk nie. “Hy het deur die loop van die dag in ʼn koma beland. Sy werkgewer het hom in sy woonstel gevind,” vertel Lambrechts.

Volgens Lambrechts het sy werkgewer met hom na die hospitaal in Thabazimbi gejaag, vanwaar hy na die Life Peglerae-hospitaal in Rustenburg oorgeplaas is. “Hy was teen verlede Donderdag weer bietjie beter, maar het Saterdag ʼn terugslag gehad en weer in die koma verval. Daarna het dokters hom onder verdowing geplaas,” het Lambrechts verduidelik.

“Hy is steeds in die hoësorgeenheid en die dokters sê hy sal vir ten minste nog twee weke daar bly. Die nierdialise word ook nog nou en dan gebruik. Gisteraand was sy koors weer baie hoog, maar dis nou weer bietjie beter,” het Lambrechts gesê.

Riekie en Johan Fuls. Foto's aan Maroela Media verskaf.

Riekie en Johan Fuls. Foto’s aan Maroela Media verskaf.

Maroela Media het vroeër berig Riekie Fuls (60) is op 12 Februarie in die Life Peglerae- hospitaal dood aan malaria. “My ma was omtrent ʼn week en ʼn half lank siek. Ons het die Woensdag nog gekuier en die Vrydag het my pa my gebel en gesê ons moet haar dokter toe vat omdat sy nie beter word nie. My ma het ook asma en daarom wil mens nie kanse vat nie. Sy het griepsimptome gehad soos koors en het gekla van hoofpyn,” het haar dogter, Nicolene Fuls, aan Maroela Media vertel.

Vroeër vandeesmaand, ná haar ma se dood, het haar pa (70) óók begin siek word. “Juis in die lig van wat met my ma gebeur het, het ek hom ook dokter toe geneem. Die dokter het vermoed hy treur oor my ma, maar het hom veiligheidshalwe ook hospitaal toe gestuur en hom laat toets vir malaria,” het Fuls gesê. Johan Fuls het ook positief getoets vir malaria. Hy is tans ook in die Life Peglerae-hospitaal. “My pa is nou in ʼn gewone saal, maar sy bloeddruk en suiker speel wipplank. Hulle het gister vier buisies bloed getrek om te toets vir vier verskillende soorte malaria, aangesien hul nog nie weet watter een dit kan wees nie. Die dokter het blykbaar beter medikasie vanuit die buiteland aangevra wat nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie,” het Fuls gesê.

Tebogo Lekgwethane, woordvoerder vir die departement van gesondheid in Noordwes, het aan Maroela Media gesê die departement het dadelik met ʼn ondersoek en voorkomende maatreëls begin.

Maroela Media wag op terugvoer van die departement van gesondeid oor ʼn bewering dat nog 15 mense in Lephalale in Limpopo ook met malaria in die hospitaal opgeneem is.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het egter gesê ʼn hele aantal gevalle is in Thabazimbi en Limpopo aangemeld. Hulle het bygevoeg dat dit meestal in afgeleë gebiede aangemeld is. “Die gebied was voorheen ʼn malaria-gebied, dus is dit nie heeltemal ongewoon nie,” het Nios gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Rene' ·

Ek het ook n paar jaar gelede malaria gehad. Na drie weke se behandeling vir nier probleme, na elke keer vingerprik gedoen is en negatief gewys het vir malaria besluit die dr om bloed te trek. Was toe n muskiet wat net in Namibia voorkom. Ek hoop die pasiente se bloed word getoets. Ek bly in kwazulu natal.

TDW ·

Limpopo WAS ‘n malaria gebied, so ook amper die hele Suider Afrika. Dit is verjaag met plaagdoder.

Jennifer ·

Jy js so reg, die regering hou nie meer n hand op al die plae nie, maak nie voorsiening vir die nodige en nuutste medikasie vir mens en dier.

willis ·

Nog ‘n gebied waar die mense wat dit beheer het vervang is. Ek onthou dat in Nelspruit daar weekliks muskiet afweerder (repellent) gespuit is. Dit gebeur nie meer nie en dis net ‘n kwessie van tyd voordat Nelspruit weer ‘n endemiese malaria gebied word.

Gerd Lourens ·

Ek is nie ‘n medikus nie. MAAR, het al baie in Afrika getoer en tweekeer “gewone” malaria gehad. Bloed getoets in plaaslike klinieke, 20 min later die uitslag. Drink Co-Artem vir drie dae en Augmentin totdat die dosis klaar is en siedaar, genees. ‘n Tweede dosis Co-Artem kan vir nog drie dae gedrink word.
Gebruik gladnie malaria profilaksis(spelling?) want dit onderdruk die simptome.
Eet knoffel en smeer Tabard en Peaceful Sleep – GEEN ANDER PRODUKTE NIE!
Geen opnames in hospitale en duur behandeling nie.
Serebrale malaria is egter ‘n ander saak.

Derick Nieuwoudt ·

Gert Lourens
Ek werk al 6 jaar in Angola en 3 keer malaria gehad en ja,spoedige diagnose van kardinale belang en dan gewone behandeling Coartem of Co Arinade,met vitamines en 3 dae in bed,Gelukkig is die Afrika Dr’s geneig om eers te aanvaar dis malaria en daarvolgens die behandeling. Sterkte aan families

charlene ·

Gerd, baie dankie vir die raad – ek hoop die ander lees ook hier. Ek stem 100% saam met Tabbart of peaceful sleep. citronella olie werk ook nie so lekker. Maar die knoffel stem ek glad nie saam nie – kyk vreet knoffel, daar is geen ander woord. Ek smeer net garlic botter om my brood, gooi dit in my kos en dan hap ek nog so aan daai knuffel huisies… en `n musiet byt my….
Maar ek hoop die mense lees jou ander raad, ek het nou die goed se name neer geskryf net vir ingeval, doornpoort is te naby aan ons so liewers veilig wees.

Piet Pompies ·

Ons woon in ‘n Malaria gebied en die dokters hier toets altyd vir Malaria as die simptome van griep voorkom. Die toets is soos ook, soos hier bo genoem, baie eenvoudig en die uitslae is gou beskikbaar. As behandeling vroeg begin is herstel gou met geen nagevolge. Die pasient moet net bloot op ‘n Malaria toets aandring as hulle griep simptome het.

Johann ·

Kyk mooi; dit saam met gewasvretende bolwurms en ander “plae” is die voorland van n eens “skoon” SA. Daars bloot net nie meer n erns aan beheer en kontrole oor so iets nie. Deel van n oorweldigende kultuur van sotlike onkunde en blatante onbeholpsaamheid.

willis ·

En daar is nou ook ‘n uitbraak van Mango vlieg in Noord Wes…. Jy is in die kol Johann

Alida ·

Toe DDT nog beskikbaar was was daar geen malaria muskiete nie.

Le Roux ·

Ek het malaria gehad in Angola (2010)… Weens ek niemand daar geken het nie, nie Portuguese praat nie en ń dag of twee moes wag vir hulp van ń vriend wat saam my gewerk het daar het ek geen keuse gehad as om die water uit die kraan te drink nie.

Ek het positief getoets vir typhoid en malaria… Was drie weke (waarvan ek nie veel kan onthou nie) in ICU en daar na terug SA toe vir verdere behandeling.

Ek hoop terharte nie hierdie gaan ń groot probleem in ons land raak nie. Malaria is ń lelike ding!!!

SARIE VAN HEERDEN ·

Stem saam met Alida, maar of DDT nog beskikbaar is weet ek nie maar weet wel dat daar tot ‘n paar jaar gelede nog DDT gebruik is om mense se woonhuise in Marlothpark, Oos Transvaal, te bespuit en dit het gewerk.

Johannes Meintjes ·

Nou Malaria in SA en noudiedag Ebola in sentraal Afrika. Seker maar toevallig.

Nerina ·

Talle lande het al DDT verbied vir goeie rede. Ja, dit help om die muskiete onder beheer te kry en selfs uit te roei, maar die moontlike nagevolge is reusagtig.

Celia ·

Volgens berigte hier (Burger in Kaapstad) is daar nou meer as 40 mense siek.

conrad ·

Maroela, die aantal mense nou siek aan malaria is 44(volgens Burger koerant in Wes Kaap)?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.