Malaria: Simptome en voorkoming

Argieffoto. Foto: Pixabay.

Argieffoto. Foto: Pixabay.

Die Universiteit van Pretoria (UP) het ʼn inligtingsdokument uitgereik met inligting oor malaria.

“Ná die onlangse dood van twee vroue in Doornpoort in Pretoria asook die gevalle wat in Rustenburg aangemeld is, is mense in Gauteng paniekerig en spekuleer hulle oor die oorsprong van die siekte,” het UP in ʼn verklaring gesê.

In albei gevalle was die mense nog nooit in ʼn malariagebied nie.

UP se sentrum vir volhoubare malariabeheer is besig met navorsing oor malariavektors, malariaparasiete en menslike gesondheid.

“Daar is ʼn sterk fokus op innoverende maniere om malaria te voorkom,” lui die verklaring.

In sommige gevalle word mense besmet wanneer hulle ʼn malariagebied besoek en begin eers later, wanneer hulle terug is by die huis, simptome toon. In ander gevalle is dit ʼn kwessie van die sogenaamde “taxi”-malaria, wanneer ʼn muskiet in ʼn reisiger se tas of voertuig die land binnegekom het.

“Bewusmaking is baie belangrik wanneer dit by malaria kom aangesien dit die eerste stap is tot voorkoming,” lui die verklaring.

Kyk uit vir dié simptome:

  • Griepsimptome wat afwissel met tye waarin jy voel of jy niks makeer nie
  • Hoofpyn
  • “Goor” gevoel
  • Moegheid
  • Naarheid
  • Spierpyne
  • Kouekoors
  • Diarree

Mense wat onlangs in ʼn malariagebied was en dié simptome ervaar moet onmiddellik by ʼn dokter uitkom.

Simptome van gevorderde malaria sluit die volgende in:

  • Stuiptrekkings
  • Tye waarin jy nie by jou bewussyn is nie
  • Moeilike asemhaling

Indien jy na ʼn malariagebied gaan reis of bekommerd is, kan die volgende voorkomende maatreëls gevolg word:

  • Vermy dit om tussen sononder en sonsopkoms uit te gaan
  • Dra langmouklere as jy saans moet uitgaan
  • Moenie donker kleure dra nie aangesien dit muskiete aantrek
  • Smeer muskietweerder aan alle dele van jou vel wat blootgestel is
  • Bly in ʼn stewige gebou wat goed onderhou is in die mees ontwikkelde deel van die dorp
  • Gebruik nette voor vensters en deure
  • Spuit muskietweerders of brand -weerders in die nag
  • Slaap snags onder muskietnette
  • Drink malariamedikasie

Daar is ook ʼn app, Malaria Buddy, wat jy kan aflaai vir iOs- en Android-toestelle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hellen ·

Maroela ?? hoekom kan ons die berig nie copy en bere vir die toekoms nie ? hoe gemaak as ons dit wil bere om op n later stadium weer te lees of op te volg ?

Liza ·

Hellen, as jy dit op jou rekenaar lees ‘print screen’ net die bladsy. Op jou foon kan jy screen grab.

Jaco Grobler ·

‘…. Binne in ‘n tas die land binnegekom het’ so al asof die muskiete hulle steur and landsgrense! Mens kry nog altyd Malaria binne SA grense. Hoekom noem hulle ook nie ‘n derde moontlikheid nie, naamlik dat gebrekkige voorkoming en gunstige weerpatrone moontlik die lokalisering van die Anopheles muskiet kon bevorder/veroorsaak nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.