Malawiër gevonnis na gastehuis-moorde

Brian en Tillie Pope. Foto: Verskaf

Brian en Tillie Pope. Foto: Verskaf

ʼn Malawiër is in die hooggeregshof in Harrismith gevonnis vir die moord op Brian Pope (62) en sy vrou Tillie (47) wat koelbloedig doodgeskiet is by ʼn gastehuis in dié Vrystaatse dorp.

Pharaoh Mohne (32) is tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moorde. Hy is ook tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op elk van die aanklagte van poging tot moord, vyf jaar tronkstraf vir ontvoering, drie jaar vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie en agt jaar tronkstraf vir huisbraak en diefstal.

Die egpaar het in April verlede jaar saam met Brian se seun Warren, sy vrou Marlene, en hul twee kinders op die plaas Tweevley oorgebly vir die naweek. Pope is twee keer geskiet en Tillie drie keer. Die moordenaar is toe na Warren en Marlene se kamer waar hy Warren met ʼn tuinvurk aangeval het. Marlene is in die arm gesteek.

Die aanvaller het hierna vir Marlene en die twee kinders, toe een en vier jaar oud, in ʼn motor ingedwing. Hy het ʼn ent gery en toe weer stilgehou om glo nog mense op te laai. Marlene het haar kans gesien en agter die stuurwiel ingespring en weggejaag. ʼn Boer op een van die aangrensende plase het intussen by die gastehuis opgedaag na hy die geweerskote gehoor het en die moordenaar het gevlug.

Mohne is kort na die moorde in hegtenis geneem. Die saak is deur die Valke in die Vrystaat ondersoek. “Ek wil die lede wat direk en indirek by die ondersoek betrokke was, gelukwens met uitstekende speurwerk, asook die regbank wat ʼn duidelike boodskap aan misdadigers gestuur het dat misdaad nie betaal nie,” het lt.genl. Thabethe Mpembe, provinsiale polisiekommissaris, gesê.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

sproetjies ·

Stuur die buitelanders terug na hulle eie lande, hulle jaag net nonsense aan hier. Ons het genoeg werkloses wat soos valke sit en kyk waar hulle kan droogmaak, het nie nog van buite ook indringers nodig nie,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.