Malawiese hof beslis teen Bushiri’s se inhegtenisneming

Shepherd Bushiri en sy vrou, Mary. (Foto: Facebook)

Die landdroshof in Lilongwe in Malawi het Woensdag teen die inhegtenisneming van die selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri en sy vrou Mary beslis.

Dít volg nadat die staat ’n nuwe aansoek gebring het om ’n lasbrief vir die egpaar se inhegtenisneming te bekom nadat die staat sy aansoek om appèl teen die egpaar se vrylating in November verlede jaar teruggetrek het.

Steven Kayuni, direkteur van openbare vervolging in Malawi, het dié aansoek teruggetrek nadat Suid-Afrika versoek het dat die egpaar aan hom uitgelewer moet word.

Kayuni het Woensdag aan die hof gesê dat Suid-Afrika se versoek intussen formeel aan Malawi beteken is en sluit in klagtes van diefstal, bedrog, vervalsing en die versuim om borgtogvoorwaardes in Suid-Afrika na te kom.

Die Bushiri’s is verlede jaar op 4 November in die landdroshof in Pretoria op borgtog van R200 000 elk vrygelaat ná hul inhegtenisneming in Oktober. Die egpaar het Suid-Afrika kort daarna onder raaiselagtige omstandighede verlaat en na hul tuisland gevlug omdat hulle glo vir hul veiligheid vrees.

Die egpaar is later in November in Malawi in hegtenis geneem nadat Interpol ʼn lasbrief vir hul inhegtenisneming uitgereik het. ’n Landdros het egter beslis dat die Bushiri’s sonder borgtog vrygelaat moet word omdat hul inhegtenisneming in Malawi onwettig was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.