Maleisië-doodstraf: Man gee glo vir hom tas met dwelms

Deon Cornelius. Foto: Facebook

Deon Cornelius. Foto: Facebook

Deon Cornelius, ʼn veiligheidswag van Suid-Afrika wat Donderdag die doodstraf opgelê is in Maleisië, beweer ʼn Nigeriër het vir hom ʼn skootrekenaarsak met die dwelms in gegee.

Cornelius (29) is skuldig bevind aan dwelmhandel nadat hy op 4 Oktober 2013 met amper 2 kg se metamfetamien (ook bekend as tik) by die Penang Internasionale-lughawe betrap is.

Volgens The Malay Mail Online het Cornelius aangevoer dat ene Tony vir hom die rekenaarsak gegee het en dat hy onbewus was van die inhoud. The Star Online berig dat Cornelius en Tony mekaar slegs vir ʼn paar maande geken en mekaar slegs vier keer by Tony se huis ontmoet het.

Volgens beide berigte het regter Datuk Nordin Hassan bevind dat Cornelius nie daarin kon slaag om die staat se saak in redelike twyfel te trek nie. Hassan het glo gesê dit was nie logies vir Cornelius om vir Tony te vertrou nie en dat Cornelius agterdogtig moes raak toe Tony die skootrekenaarsak in sy bagasie gesit het.

Nelson Kgwete, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het gesê die Suid-Afrikaanse hoë kommissariaat in Kuala Lumpur bied sedert Cornelius se inhegtenisname konsulêre ondersteuning aan hom en sy familie in Suid-Afrika.

“Wanneer ʼn persoon die doodstraf opgelê word deur die hooggeregshof in Maleisië, word die saak outomaties na die appèlhof verwys,” het Kgwete verduidelik. “Die appèlhof oorweeg die saak en besluit of die hooggeregshof korrek was waarna die persoon weer voor die regters verskyn. Die proses neem tussen ses en 12 maande voor die appèlhof ʼn besluit neem.”

Volgens Kgwete kan die Suid-Afrikaanse regering nie betrokke raak by die saak terwyl dit voor die appèlhof is nie. “Dit is slegs wanneer die appèlhof ook die doodsvonnis onderskryf dat die Suid-Afrikaanse regering die Maleisiese regering sal nader met ‘n versoek vir genade,” het hy gesê.

Cornelius is gevonnis ingevolge artikel 39B (1) (a) van die Wet op Gevaarlike Dwelms van 1952 waarvolgens dit verpligtend is dat ʼn persoon wat skuldig bevind word, die doodstraf opgelê word.

Klik hier vir ‘n vorige berig oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Naki

Meng jou met die semels dan vreet die varke jou op!!

Nico

Hy is ‘n veilgheidswag en probeer met sulke snert wegkom. Ek glo dit was deel van sy opleiding om uit te kyk vir sulke gevalle en waaksaam te wees. Neewat dit was pure gulsigheid.

Elsabe Otto

Dit is baie hartseer! Maar dis die wet! Almal het verantwoordelikheid teenoor die wet. Daar is redes daarvoor. Al was dit my eie kind!

Carien

Die arme kind het ‘n duur fout gemaak en het baie gebede nodig!!

Eliza-beth

Dis jammer ja, ek voel vir sy familie veral. En sonder om veroordelend te probeer wees: regtigwaar, hoe is mens so naief om sommer VERAL ‘n Nigeriër te vertrou? Hulle is tog BERUG vir dwelmsmokkelary. En as jy iemand nog net ‘n rukkie ken, om watter rede sal jy hom dan nou toelaat om sommer ‘n rekenaarsak in jou bagasie te sit? Dit klink of hy nie eers die ou se van geken het nie! Wat het hy in elk geval dan in Maleisië gaan soek ook? Ek vra dit nie omdat dit iets met MY te doene het nie,… Lees meer »