Malema dan weer in hof vir dié sake

EFF-leier Julius Malema. (Foto: Oupa Mokoena/African News Agency)

Die saak teen Julius Malema en Adriaan Snyman is tot Januarie volgende jaar uitgestel.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, het Vrydag aan Maroela Media gesê die saak teen Malema en Snyman, wat verband hou met die afvuur van ʼn vuurwapen in die publiek, is uitgestel tot 15 Januarie 2021 vir die voorverhoor.

Malema én Snyman se lasbriewe vir inhegtenisneming staan oor tot dán.

Malema en Snyman staan tereg op vyf aanklagte wat verband hou met Malema se beweerde afvuur van ʼn vuurwapen by die EFF se vyfjaarfeesviering in Mdantsane in 2018. Die aanklagte behels die onwettige besit van ʼn vuurwapen, die onwettige besit van ammunisie, die afvuur van ʼn vuurwapen in ʼn beboude gebied of openbare plek, versuim om redelike voorsorgmaatreëls te tref om mense en eiendom te beskerm, asook die roekelose bedreiging van mense en eiendom.

Snyman het die vuurwapen glo vir Malema aangegee voordat dit afgevuur is. Hy is na bewering die eienaar van ʼn private sekerheidsmaatskappy wat tydens die voorval dienste aan die EFF gelewer het.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het in Augustus 2018 die klagte teen Malema en Snyman ingedien.

Die EFF-leier moet wel volgende maand in verband met nóg ʼn saak teen hom verskyn. Hy en EFF-LP Mbuyiseni Ndlozi staan tereg op ʼn aanklag van aanranding.

Aanrandingsaak

Die EFF-leier Julius Malema en die party se woordvoerder, Mbuyisen Ndlozi, tydens een van hul verskynings in die Randburg-landdroshof. (Foto: EFF/Twitter)

Malema en Ndlozi moet op 13 Oktober in die Randburg-landdroshof verskyn nadat hulle glo in April 2018 by die begrafnis van Winnie Madikizela-Mandela ʼn senior polisielid in uniform aangerand het. Die voorval is op kringtelevisiekameras vasgevang. Die polisielid het ʼn klag by die polisie aanhangig gemaak.

Die saak het oënskynlik geen aandag geniet nie tot die burgerregtegroep AfriForum se private vervolgingseenheid in Januarie verlede jaar oor die ondersoek navraag gedoen het. In Julie verlede jaar het AfriForum aangekondig dat hy die hof met ʼn mandamus-aansoek nader om die NVG te dwing om ʼn besluit oor die vervolging van die twee te neem.

Die NVG het ná volgehoue druk herbesin oor sy aanvanklike weiering om te vervolg en wel vervolging ingestel.

Malema en Ndlozi voer aan die betrokke polisielid het probeer keer dat hulle toegang verkry tot die voormalige apartheidstryder “se laaste rusplek”.

Omstrede uitsprake

Die EFF-leier, Julius Malema. Foto: ANA

Malema word boonop nou deur die Menseregtekommissie (MRK) na die gelykheidshof gesleep nadat hy en sy party langer as ʼn jaar gelede verskeie omstrede aanhalings van die gewese Zimbabwiese president, Robert Mugabe, op Twitter en Facebook gedeel het.

Maroela Media het vroeër vandeesweek berig die gewraakte stellings sluit in “die enigste wit man wat jy kan vertrou, is ʼn dooie wit man”, asook die stelling “ons party moet voortgaan om vrees in die hart van die wit man, ons werklike vyand, in te boesem”.

Luidens die MRK se hofstukke is dié aanhalings twee van vier wat die Gelykheidswet oortree en neerkom op haatspraak.

Malema het ʼn video met ʼn reeks foto’s met bekende aanhalings van Mugabe op 14 September verlede jaar gedeel. Dit verskyn saam met die EFF se logo op die video.

“Die stellings kom neer op haatspraak teen ʼn rasgroep (in hierdie geval wit mense) wat verbied word deur art. 10 van die Gelykheidswet. [Die stellings] val dus buite die raamwerk van die reg op vryheid van uitdrukking soos vervat in art. 16 van die Grondwet,” lui die hofstukke.

Dit is nie duidelik wanneer die EFF rakende dié aangeleentheid in die hof moet verskyn nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johann ·

Ja wek Kersvader en die Tannemuis is nefies en my ouma ‘n olimpiese vars water surfer…hy en sy mede anargiste WEET hulle het die mag van die ongeskoolde blinde massas agter hulle. As jy dink Clicks was erg…vervilg of arresteer en sluit die een toe.

Persheks Adri ·

Hierdie sake sloer hopeloos te lank! Laat mens wonder ne en ek glo steeds hy’s iemand se “puppet” en mond hopeloos te los! Laat 1 van ons so iets sê dan sit ons. Ek gaan nie asem op hou nie die MRK is self rassisties teenoor ons…

#TSEK EFF TSEK!

groenboer ·

Hoog tyd dat Julius die rooi oorpak vir ‘n helder oranje een verruil… :-)

Johanncb ·

Hoe lank nóg gaan Mnr Malema daarin slaag om die wet te ontduik en ondermyn?

Adam Adriaan ·

Die dag wat julius skuldig bevind word vir al sy oortredinge sal ‘n blye dag wees. Maar hierdie knaap se kans op skuldigbevinding is baie minder as wat dit op Kersdag sal pienkkapok op Kerkplein.

JohanR ·

Hulle moet vir die ou sommer ‘n luukse villa daar by die hof aanbou hy is soe baie daar. Na die
luukse villa waaneer hy gevonnis is, kan hy verryl vir ‘n 4 by 6! My afterwereld kry skoon die tingels as ek dink aan die ou deur die tronk se hekke gaan. As hy en Jacob Zuma die selfde dag in gaan, weet ek nie wat my agterwereld gaan doen nie….miskien rittletit kry, of die hippy hippy shake!

Jakes ·

Hoekom kan Malema nie in al die CMax tronke in SA gaan vakansie hou nie? So 10 jaar by elkeen.

Nico ·

Oupa.
Snyman gaan vervolg word en Malema sal skotvry kom, Snyman is mos ‘n witman.

SomeOne ·

uitstel en uitstel en uitstel, en van die dae is hulle al 80 jaar oud en dan word dit weer uitgestel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.