Malema dreig om e-tolhekke af te breek

Julius Malema spreek die skare toe buite die SAUK se hoofkantoor. Foto: Werner Beukes / SAPA

Julius Malema spreek die skare toe buite die SAUK se hoofkantoor. Foto: Werner Beukes / SAPA

Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het Dinsdag aan Hlaudi Motsoeneng, waarnemende uitvoerende hoof van die SAUK, gesê e-tolhekke kan nie “emosioneel” verwyder word nie.

“Ons gaan e-tol fisies afbreek, dit kan nie met emosies gedoen word nie,” het hy aan duisende ondersteuners buite die SAUK se hoofkantoor in Aucklandpark gesê. “As dit geweld aanhits, dan moet die polisie kom en ons in hegtenis neem.”

Duisende EFF-ondersteuners het Dinsdag na die SAUK opgeruk om te betoog oor die openbare uitsaaier se besluit om nie die party se verkiesingadvertensie te verwerp, omdat dit geweld aanhits.  Die advertensie moedig mense aan om tolhekke “fisies te verwyder”.

Die SAUK het die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (Okosa) genader wat ten gunste van die SAUK se besluit, om nie die advertensie uit te saai nie, beslis het.

Malema het die publieke uitsaaier daarvan beskuldig dat hy die intelligensie van kiesers onderskat deur voor te stel dat hul advertensie daartoe gaan lei dat e-tolhekke op Gautengse hoofweë beskadig gaan word. Hy het gesê die tolhekke is soos standbeelde van die apartheidstydperk, wat verwyder sal word sodra die party na die verkiesing op 7 Mei aan bewind kom.

Hy het aan die SAUK-bestuur gesê hulle optrede herinner aan die apartheidsregering. “Julle doen presies wat die apartheidsregering tydens die struggle gedoen het, maar dit het nooit ons mense gekeer nie,” het Malema gesê.

Hy het ook gesê die ANC beheer die SAUK en Okosa. “Ek kan dit met gesag sê, want ek het in daardie kommissies gedien. Okosa se mense word deur die ANC aangestel. As jy by Okosa kla, kla jy by die ANC.”

Malema het ʼn beroep gedoen op Motsoeneng om nie verder vir president Jacob Zuma te beskerm en te ondersteun nie, aangesien dieselfde lot hom kan toekom as toe hy [Malema] uit die ANC-jeugliga geskors is. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ria Maritz ·

Ek wil bewyse sien van waar Malema SELF ‘n tolhek afbreek …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.