Malema dreig Zuma met regsaksie tydens chaotiese sitting

Malema tydens Donderdag se sitting in die parlement.

Malema tydens Donderdag se sitting in die parlement.

Julius Malema, leier van die EFF, het pres. Jacob Zuma Donderdag persoonlik met regsoptrede gedreig tydens ʼn chaotiese sitting van die Nasionale Vergadering.

“Dit is baie duidelik dat ons nooit ʼn antwoord sal kry nie, mnr. President. Kom ons ontmoet in die hof,” het Malema aan Zuma gesê tydens ʼn vraag-en-antwoord-sessie. Lede van die EFF het kort-kort speaker Baleka Mbete se bevel verontagsaam en Zuma herhaaldelik in die rede geval tydens die sessie.

Malema en sy mede-LP’s was ongelukkig met Zuma se antwoord op hul vraag oor wanneer hy ʼn gedeelte van die geld wat aan Nkandla bestee is, gaan terugbetaal.

“Ek glo die vraag is voortydig, aangesien sake nog nie gefinaliseer is in die einste Huis nie. Ek sal in die toekoms reageer op die debat rondom die saak, wanneer al die prosesse afgehandel is,” het Zuma in antwoord op die EFF se vraag gesê.

EFF-lede het in antwoord hierop vir Zuma getart en aangedring op ʼn tyd, datum en metode van betaling. “Ons glo sterk dat jy iets moet betaal, so moenie vir my vertel van ʼn videospeletjie van [Nathi] Nhleko nie. Hy moet die speletjies saam met sy kinders in sy huis gaan speel,” het Malema gesê in reaksie op die polisieminister se verslag wat bevind het Zuma hoef nie enige geld terug te betaal vir Nkandla nie. “Wanneer betaal jy die geld terug, want dit is wat die openbare beskermer gesê het jy moet doen?”

Mbete het gesukkel om orde in die Nasionale Vergadering te handhaaf. Die EFF se LP’s het haar geduld beproef maar sy het nie so ver gegaan as om die parlementêre wagte te ontbied nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gerhard Bezuidenhout ·

Die EFF het immers die guts om die skelmstuk aan te spreek alhoewel hul oorloop van rassisme.

Nic Grobler ·

Dit was weer lekker konsert vanmiddag. Jammer net dis ons land se parlement.

Bart ·

Ja, well, gewoonlik word my kommentaar nie geplaas nie, so wat kan mens doen???

neelsie ·

Waarom sal Zuma hom nou aan die hof steur?
Is die uitvoerende gesag dan nie verhewe bokant die reg nie??
Die arme Mbete sukkel nou regtig met die “kinders”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.