Malema, EFF in hof oor ‘apartheidswet’

Die Konstitusionele Hof. (Foto: Reint Dykema)

“Aanhitsing om ’n misdaad te pleeg kan nooit as spraakvryheid, soos Julius Malema en die EFF dit wil hê, beskerm word nie.”

Só het die sakeorganisasie Sakeliga Dinsdag as vriend van die hof in die Konstitusionele Hof aangevoer in die EFF en Malema se aansoek dat dele van die Wet op Oproerige Byeenkomste geskrap moet word.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het gesê Malema en die EFF het in wese aangevoer dat aanhitsing tot betreding en onwettige grondbesetting op groot skaal ingevolge die Grondwet as spraakvryheid beskerm moet word.

“Die saak is deel van ’n poging deur Malema om vervolging vry te spring op verskeie aanklagte dat hy sy volgelinge en/of die publiek tot betreding en onwettige besetting van grond aangehits het.”

Volgens Le Roux het Sakeliga aangevoer dat die bestaande regsraamwerk, wat beskerming teen aanhitsing, betreding en onwettige besetting verleen, nie ongrondwetlik is nie en nie verwater moet word om Malema en die EFF te pas nie.

Met sy bydrae het Sakeliga gepoog om die argumente van die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) en die minister van justisie en korrektiewe dienste te steun ter versterking van die NDOV se vermoë om Malema te vervolg.

“Dit is ondenkbaar dat Malema of enigiemand anders die beskerming van die hof of die Grondwet moet geniet terwyl hulle mense aanhits om misdade soos betreding en onwettige besetting te pleeg. As applikante is hulle eintlik besig om te probeer om legitimiteit te verleen aan wat in wese misdadige optrede bly en om die regsraamwerk vir eiendomsregte in die land te verswak ten einde wydverspreide onwettige besetting van grond te fasiliteer.

“Volgens wat Malema voorstel sal dit onbetaalbaar duur word om jou eiendom te beskerm teen die oortredings van diegene wat misdaad aanhits en diegene wat grond onwettig beset,” het Le Roux gesê. “Ons sien dat grondgrype die afgelope tyd meer georganiseerd en stelselmatig van aard word. Ons moedig grondeienaars aan om proaktiewe stappe te doen om besetting van hulle eiendom te ontmoedig.”

Uitspraak in die saak is voorbehou. Malema word aangekla dat hy dié wet by minstens twee geleenthede oortree het – in Newcastle in KwaZulu-Natal en in Bloemfontein – toe hy sy ondersteuners aangemoedig het om grond te beset.

Malema het hierna ʼn aansoek gebring om die grondwetlikheid van die wet te betwis. Malema voer aan die wet is afkomstig uit die apartheidsera en hoort nie meer op die wetboek nie.

Hy sê die destydse apartheidsregering het die Wet op Oproerige Byeenkomste deurgevoer om swart mense te onderdruk en mag nie in ʼn nuwe, demokratiese bedeling gebruik word nie.

Hy voer aan die wetgewing word gebruik om hom stil te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Elize ·

Hierdie wese is so vêr van die pad af dat hy nou in die bosse rondstrompel

JM ·

Ag Malema, jou mond is baie groot. Leë blikke maak die grootste geraas en jy dink almal skrik vir jou. Wat weet jy van apartheid, behalwe wat jy op hoorsê verneem het en dan verdraai is om jou te pas. Jy het nog nie ‘n dag se werk gedoen nie, maar wil die eiendomme gryp van diegene wat hard daarvoor gewerk het. Tyd dat jy in die oranje pak kom en toegesluit word!

Nell ·

Hy is een groot rooi boelie wat hopeloos te veel media aandag kry en ‘n slag ordentlik op sy plek gesit moet word. Maar nou hanteer almal die vent met handskoentjies aan – gaan my verstand te bowe.

BoerSonderRoer ·

Sal interessant wees om te sien wat van die verhoog van Mr Hofmeyr se byeenkomste gese gaan word as jy mense instruksies mag gee om landswette te oortree en jy word nie verantwoordelik gehou nie.

Janc ·

Malema wil “wettiglik” misdaad pleeg en regskoste spaar. Hy word nie vervolg nie omdat die “Regering” nie teenstrydig is met sy gedrag nie, hulle beginsels is dieselfde. Alhoewel die EFF en ANC “vyande” is, debatteer hulle net oor magsposisies want altwee soek dieselfde ding.

Lolla ·

Passop dat ons nie julle bomplanters ook hof toe vat nie!!!!!!!!!!!!!!!

Leon ·

Maar weet julle nie dat swart mense kan nie rassiste wees of aan hits of soortgelyke dinge doen nie. Vra maar die regering. Hulle sal jou mooi vertel.

Kietsie ·

Hoe vermeetel kan een mens nie wees nie. Wonder wat sal hy wat Malema is doen as hulle op sy grond gaan plak en sy eiendom net vat? Gaan hy dan nog sê dis teen die grondwet om hulle af te haal? Miskien moet hy net die skoen aan die ander voet sit voor hy ongevraagde kommentaar lewer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.