Malema en twee mededirekteure van On-Point Engineering, Lesiba Gwange en Kagiso Dichabe, het in die hooggeregshof in Polokwane op 52 aanklagte van korrupsie, omkopery en rampokkery verskyn.
Malema se langverwagte verhoor is tot Dinsdag uitgestel nadat Dichabe se regspan versoek het dat hul kliënt apart verhoor word. Volgens Dichabe se verdediging is hy al sedert verlede maand in die hospitaal en daarom vra hulle ʼn aparte verhoor.
Kort ná die hof verdaag het, het Malema die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) uitgedaag om nie die versoek om ʼn aparte verhoor teen te staan nie, sodat die verhoor kan begin.
“Die NVG probeer heeltyd om die saak te laat uitstel, insluitend vandag, deur die siekte van beskuldigde nommer vyf te gebruik om vir uitstel te vra. Ek het nie saamgestem nie. Ek is nie bang nie. Laat my teregstaan vir my sondes. Laat my vervolg en neem my in hegtenis vir my sondes. My gewete is skoon. Ek het nog nooit ʼn sent gesteel nie.”
Malema het ook ʼn subtiele hou na president Jacob Zuma en sy regering gegooi, wat onlangs daarvan beskuldig is dat hulle nie hofbevele gehoorsaam nie. Malema het gesê hy sien uit daarna om sy kant van die saak voor ʼn “neutrale hof” te vertel.
“Ons almal moet wanneer ons deur die owerhede beskuldig word, die instellings van die staat respekteer en ons onderwerp aan die wet. Omdat ek nie bo die wet verhewe is nie, is ek hier om myself aan die wetrige hof te onderwerp.”
Regter Billy Motlhe sal Dinsdag na die staatsaanklaer en verdediging se advokate luister om te bepaal of Dichabe apart verhoor sal word. Veiligheid rondom die hof sal steeds streng toegepas word.
Paaie na die hof was Maandag gesluit vir verkeer nadat polisie doringdraad gebruik het om ʼn veiligheidsgebied rondom die hofgebou te skep. Van Malema se ondersteuners het met rooi hemde om die hofgebou gestaan en pro-Malema liedere gesing.
Malema het in 2012 vir die eerste keer in verband met die aanklagte saam met sy medebeskuldigdes in die hof verskyn. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle glo valse voorleggings aan die departement van paaie en vervoer in Limpopo gedoen om ʼn tender van R52 miljoen vir Malema se projekbestuursmaatskappy, On-Point Engineering, te kry.
Malema is tans uit op borgtog van R10 000. Hy hou vol die aanklagte teen hom is polities gemotiveerd en vorm deel van ʼn komplot wat deur ANC-leiers teen hom gesmee word.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
15 Kommentare
Hou op lieg ou seun!
There is no story….
Malema is reg – hy het nie ‘n sent gesteel nie.
Hy het nie gelieg nie , hy het verseker nie net n sent gesteel nie ……………..net miljoene daarvan !
Ok Malema, jy het nog nooit ‘n sent gesteel nie – maar wel miljoene.