Malema erken belastingskuld

Julius Malema, die leier van die EFF. Foto: Werner Beukes / SAPA

Julius Malema, die leier van die EFF. Foto: Werner Beukes / SAPA

Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), het Maandag erken dat hy nie sy belastingsake hanteer het soos die wet vereis nie.

“Ek het my finansiële sake in ander se hande gelos,” het Malema gesê. “Ek het nie seker gemaak dat my verpligtinge nagekom word nie.” Malema het die verklaring uitgereik nadat sy voorlopige sekwestrasie Maandagoggend uitgestel is. “Ek het mense se raad aanvaar en gevolg en, agterna beskou, moes ek dit nooit gedoen het nie.”

Die Pretoriase hooggeregshof het sy sekwestrasiesaak na 25 Augustus uitgestel nadat Malema en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ʼn ooreenkoms bereik het.

Nic Maritz, vir die SAID, het aan die hof gesê ʼn voorwaardelike skikkingsooreenkoms is bereik. Regter Cynthia Pretorius het ʼn voorlopige bevel onderteken wat aan haar oorhandig is.

Volgens die hofdokumente skuld Malema die SAID R16 miljoen plus rente nadat hy tussen 2006 en 2010 versuim het om sy belastingopgawes in te dien. Die SAID het Malema in 2010 gekontak oor sy versuim, en ná 18 maande en talle pogings deur die SAID, het hy uiteindelik sy uitstaande opgawes ingedien.

Malema het ook nie sy Ratanang-familietrust vir belastingdoeleindes geregistreer nie en die SAID moes dit namens hom doen. Die SAID het ook beslag gelê op van Malema se besittings en eiendom om dit op ʼn veiling te verkoop.

Regter Bill Prinsloo het in Februarie beslis dat Malema se boedel voorlopig gesekwestreer moet word. Malema en enige ander belanghebbende moes vanoggend voor 10:00 redes bied waarom die sekwestrasie nie gefinaliseer moes word nie.

ʼn Finale sekwestrasiebevel kan Malema se politieke loopbaan beïnvloed, aangesien hy in só geval nie as ʼn lid van die parlement sal kan dien nie.

Malema het gesê die SAID het hom Maandagoggend ingelig dat hy die skikkingsooreenkoms aanvaar. “Die ooreenkoms was op voorwaarde dat ek moet erken dat ek nie my belastingverpligtinge in die verlede nagekom het nie; versuim het om sekere inkomstes vroeër te verklaar; en gevolglik versuim het om sekere belasting tydens die betrokke periode oor te betaal,” het hy gesê. “Ek aanvaar dat bykomende assesserings vir 2011 en 2012 sal volg en dat dit bykomende kapitaal, boetes en rente sal insluit. Ek onderneem om te verseker dat my belastingsake in die toekoms in orde sal wees.”

Malema sê die aanbod wat hy aan die SAID gemaak het, sluit ʼn bykomende bedrag in wat deur hom betaal moet word bo en behalwe die bedrag wat reeds deur die curator bonis namens SAID ingesamel is toe sy bates verkoop is.

Hy sê hy hoop om die saak af te handel en op die toekoms te fokus.

Adrian Lackay, woordvoerder vir die SAID het gesê die ooreenkoms word verwelkom, maar bygevoeg die besonderhede van die ooreenkoms is vertroulik. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jasper ·

Eers ontken en nou erken. Al wat ek van hom kan glo is dat hy ons witvelle baie hel gaan gee.

Tess ·

Mag so wees Jasper, dis daar waar ons witvelle uiteindelik hande sal vat, wanneer almal dit aan hul eie basse voel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.