Malema beweer die EFF is in besit van ʼn afskrif van die verslag. “Die man wat die verslag saamgestel het, is deur die Guptas aangestel om die beeld van die familie en hul maatskappye te poets. Sy uitgangspunt was dat hy nie die familie se beeld kan poets sonder om Zuma se beeld reg te ruk nie en dit is hoe dit gebeur het,” het Malema gesê.
“Hy is verantwoordelik vir baie van die vals nuus wat julle aanlyn sien in ʼn desperate poging om Zuma se beeld te poets.”
Malema het buite die konstitusionele hof in Johannesburg met verslaggewers gepraat waar die EFF ʼn aansoek ingedien het om Zuma in ʼn staat van beskuldiging te laat plaas.
Volgens Malema is die verslag swak geskryf en nie feitelik korrek nie. “Ons sit met hierdie sogenaamde intelligensieverslag. Ons besluit nog of ons dit op die EFF se webtuiste gaan publiseer. Dit lyk asof dit deur ʼn student van vroeë kinderontwikkeling geskryf is. Dit is nie samehangend nie,” het hy gesê.
“Daar staan onder meer dat dieselfde voormalige minister van finansies in Brittanje wat Pravin se oorsese reis gereël het, ook die EFF se reis na Londen gereël het. Dit is nie waar nie. Net dit alleen sê vir jou dat iemand stories opmaak.”
Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) het Donderdag tydens ʼn mediakonferensie bekendgemaak dat Zuma glo steun op die sogenaamde intelligensieverslag as rede waarom Gordhan en Jonas uit Londen teruggeroep is. Die SAKP het gesê die verslag toon Gordhan en Jonas was van plan om Zuma swart te smeer en om internasionale bankiers te vra om teen hom saam te sweer.
Volgens die SAKP is die verslag Maandag op ʼn vergadering van die ANC se top-ses leiers voorgelê as “bewys” waarom Gordhan en Jonas moes terugkeer na Suid-Afrika.
Malema het gesê daar is geen bewyse in die verslag wat aandui dat inligting onderskep is om die verslag saam te stel nie. “Die EFF wil hê die hoogste hof in hierdie land moet ʼn bevel aan die parlement uitreik om teen Zuma op te tree na aanleiding van verlede jaar se Nkandla-uitspraak. Zuma as individu is nog nooit in die parlement aanspreeklik gehou nie.”
Sal nogal graag die uitspraak van die hof wil weet. Definitief n eerste.
Wonder wie van top 6 lek die inligting uit
Wat ek wil se sal my vir BAIE lank agter tralies laat sit.