Malema herkies as EFF-leier

EFF-leier Julius Malema. Foto: EFF/Twitter

Julius Malema is Saterdagaand net voor middernag onbestrede as leier van die EFF herkies.

Sowat 4 000 juigende, dansende en singende afgevaardigdes by die EFF se volksvergadering (nasionale kongres) by Nasrec suid van Johannesburg het hom toegejuig.

Malema was die enigste kandidaat vir die party se ses topmagsposisies teen wie niemand anders genomineer is nie. Die EFF-reël dat ’n kandidaat 30% van die afgevaardigdes se steun moet hê vir die nominasie om geldig te wees, het egter telkens beteken net een kandidaat is vir elke posisie genomineer.

Die nuutverkose topses is as volg:

Afgevaardigdes stem vir die EFF se topses-leiers. Foto: EFF/Twitter

Leier: Julius Malema (herkies)

Onderleier: Floyd Shivambu (herkies)

Nasionale voorsitter: Veronica Mente (vervang adv. Dali Mpofu)

Sekretaris-generaal: Marshall Dlamini (vervang Godrich Gardee)

Adjunk‑sekretaris-generaal: Poppy Raisibe Mailola (vervang Hlengiwe Mkhaliphi)

Tesourier-generaal: Omphile Maotwe (vervang Leigh-Ann Mathys)

Adv. Dali Mpofu. Foto: EFF/Twitter

Die mees dramatiese oomblik van die aand was toe ’n duidelik senuagtige en stotterende Mpofu die nominasie om teen Shivambu te staan aanvaar het, maar vernederend genoeg nie die drempel van 30% kon haal om ’n verkiesing af te dwing nie.

Die byeenkoms duur tot Maandag.

Malema het Saterdag gesê linkse magte soos die EFF en aktivistiese vakbonde soos die metaalwerkersvakbond Numsa en die mynwerkersvakbond Amcu moet saamstaan teen regse groepe soos AfriForum en “die lelike Helen Zille” en sulke regse groepe vernietig.

Hy het AfriForum, wit monopoliekapitaal, die sakeman Johann Rupert en pres. Cyril Ramaphosa later tydens ʼn mediakonferensie by Zille (deesdae voorsitter van die DA se federale dagbestuur) gevoeg as regse magte wat saamspan teen die EFF.

Oor aktuele politieke kwessies het Malema gesê hy het by die kis van sy oorlede ouma beloof om nooit na sy vorige party (hy verwys na die ANC hoewel hy die party nie by name genoem het nie) terug te keer nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Wielspore ·

Dit laat my dink aan ‘n stembrief met net een kanidaad!

Lourens ·

Dis nie n volks vergadering nie maar wel ‘n nasievergadering want die EFF bestaan uit n groepering van volkere wat n nasie genoem word. Deesdae is daar baie spelfoute in maroela media berigte. Wie doen proeflees?

John ·

Mpofu gaan ook by Mmusi se groepie aansluit. Daar wag moeilikheid vir die ANC & Kie.

Arrie ·

Omdat Lings reg is en Regs lings is

Jes 5:20. Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.

Bitterbek ·

My vraag ook! Is net ‘n “sideshow” in die groter sirkus!!!

Sniper ·

Wil graag weet hoekom maroelamedia so baie dekking gee oor julius malema? Is dit aspris na ons almal vra om hom nie die vrye publisiteit te gee nie

skurweberg ·

Hierdie beskuldiging dat regsegroepe en ander individue wat saamspan teen die EFF en ander groepe moet in die hoogste hof bewys word. Persoonlik glo ek dat dit die enigste eerbare weg is om hierdie beskuldigings en verdelende uitlatings te besleg. Laat ons presies hoor wat hy en sy party en die ander groepe teen AfriForum het. Laat die hoogste hof in die land vir eens en altyd ‘n uitspraak gee oor die verdelende aannames van Juluis. Dit kan ‘n draaipunt in die geskiedenis van SA word, as almal wat in hierdie artikel by name genoem word se kaarte vir ‘n slag op die tafel le, sodat ALLE mense dit kan sien en self besluit, oor die meriete van sy beskuldigings. Is dit nie nou tyd en ‘n geleentheid om ons roeping hard en duidelik, sonder vrees aan die wereld bekend te stel nie?

Capie ·

Mense vra nou om Malema van die nuus af te haal. Wil julle in julle eie droom wereld bly leef tot hy opdrag gee om blankes in die see in te verdryf en dan wakker skrik as ander jou duur huis begin beset. Deur hom van die nuus af te haal gee hom net meer skietkrag. Hy predik dit wat sy aanhangers en mense met geen ondentlike skool onderrig wil hoor en hulle glo hom. Selfs Huisgenoot het hom al as so n mooi seuntjie probeer voorstel. Hy floreer op kritiek en geen hof sal hom keer of sy aanhangers se standpunte laat verander nie

Johan Maritz ·

UIt die oog uit die hart kyk wat het met PAC gebeur in begin presies dieselfde as eff opgetree, nou bestaan hulle amper nie agv geen media dekking.

Hendrik ferreira ·

Asb MM geen meer berigte van die eff sirkus of hulle narre leiers nie.

Chris ·

Ongelooflik… Hy is seker oorstelp en soos ek verbaas oor die uitslag. Wie sou dit kon indink of voorspel??

Johanna Botha ·

Sal die mense nooit tevrede kry nie …alles is verkeerd nooit is iets genoeg nie en alles moet breek of dood !

Machinga ·

Nie volks vergadering nie masr wel ‘ nasie vergadering want EFF is nie ‘n volk nie maar ‘n politieke party. Daar is n wesenlike verskil tussen die woorde nasie en volk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.