Malema maan Vavi, Jim en Mathunjwa om nuwe federasie te vorm

Vuurwerkvertoning tydens die EFF se tweede herdenkingvieringe in Rustenburg, Noordwes op 25 Julie 2015 Foto: EFF, Facebook

Vuurwerkvertoning tydens die EFF se tweede herdenkingvieringe in Rustenburg, Noordwes op 25 Julie 2015 Foto: EFF, Facebook

Julius Malema, leier van die EFF, het Saterdag Zwelinzima Vavi, die voormalige hoofsekretaris van Cosatu en Irvin Jim, hoofsekretaris van die vakbond Numsa, gemaan om by Amcu-president Joseph Mathunjwa aan te sluit om ʼn nuwe federasie te vorm.

“Julle mors tyd. Die EFF sal enige formasie van ʼn onafhanklike federasie ondersteun,” het Malema Saterdag aan ondersteuners tydens die party se tweede herdenkingvieringe in Rustenburg gesê.

Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) is in 2014 uit die vakbondfederasie Cosatu geskop ná sy spesiale nasionale kongres in November 2013, waar die vakbond besluit het om nie enige politieke party tydens verlede jaar se nasionale verkiesing te ondersteun nie, en Cosatu gemaan het om uit die ANC-alliansie te onttrek.

Vavi is daarna in Maart geskors nadat hy Cosatu in oneer gebring en die vakbondfederasie verdeel het.

Mathunjwa is die president van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) en het verlede jaar ʼn vyf maande lange staking by ʼn platinummyn in Noordwes gelei. Amcu het Cosatu onttroon as dominante vakbond in die platinummynbedryf ná ʼn reeks onwettige stakings in 2012.

Malema het Saterdag gesê Cosatu is dood en dit wat oorbly is ʼn faksie van die Suid-Afrikaans Kommunisteparty (SAKP).

Hy doen ʼn beroep op werkers om nie enige inskrywingsfooie aan Cosatu te betaal nie, aangesien die geld gebruik word “om die SAKP te finansier”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bruno Stef ·

Selde poeding net n ander sous,Malema wil maar net meer spasie vir hom en sy rugkrappers he by die varktrog.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.