Malema moet dan in hof verskyn

Julius Malema. Foto: EFF, Facebook

Julius Malema. Foto: EFF, Facebook

Julius Malema, leier van die EFF, moet in die hof verskyn op twee aanklagte van aanhitsing om ʼn misdryf te pleeg.

Malema het Donderdag ʼn dagvaarding ontvang terwyl hy besig was om verslaggewers toe te spreek tydens ʼn mediakonferensie.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het in ʼn verklaring gesê Malema sal vervolg word vir sy beweerde verontagsaming van die Wet op Oproerige Byeenkomste. Die aanklagte hou verband met twee voorvalle van die onwettige besetting van grond.

Die eerste voorval was in Junie vanjaar, naby Madadeni in Newcastle, waar Malema glo EFF-lede “aangehits, beveel of gekry het” om onwettig grond te beset. Die ander voorval was in Desember 2014, naby Mangaung in Bloemfontein.

Volgens die NVG moet Malema op 7 November in die Madadeni-streekhof verskyn en op 14 November in die Bloemfontein-streekhof. Die sake kan moontlik later saamgevoeg word.

Die NVG het gesê daar is nie besluit om voort te gaan met aanklagte van hoogverraad nie, weens ʼn gebrek aan bewyse. Dit hou verband met ʼn uitlating wat Malema gemaak het tydens ʼn onderhoud met Al Jazeera.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het dit intussen verwelkom dat Malema “uiteindelik vervolg gaan word” oor sy uitlatings. AfriForum het in Desember 2014 klagtes teen hom ingedien.

Nantes Kelder, hoof van ondersoeke by AfriForum, het gesê die klag teen Malema is ingedien op grond van die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond wat bepaal dit is onwettig om grond te beset sonder die toestemming van die eienaar of persoon in beheer daarvan.

“In ʼn land soos Suid-Afrika, wat deur wetteloosheid geteister word, stuur dit ʼn sterk boodskap uit dat opgetree sal word teen enigiemand wat misdaad aanmoedig. Ons verwelkom dit dat Malema vervolg gaan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elize ·

Nee wat mense, hierdie is polities geinspireer. Zuma probeer van sy vyande ontslae te raak. Eers Gordhan, dan Malema en nou Thuli. ‘n Hond ruik dit ‘n kilometer ver!

John ·

Ek dog die prez se almal hol net die heeltyd hof toe oor alles…. En nou?

Bullseye ·

In die hof verskyn en vervolg word is twee verskillende goed en in ons land volg dit nie outomaties nie..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.