Julius Malema, leier van die EFF, se sakevennote is in die Mokopane-streekshof vrygespraak op klagtes van korrupsie, het The Star Donderdag berig.
“Die hof het die saak van die hand gewys, aangesien die bewyse wat die staat voorgehou het, nie die klagtes ondersteun het nie,” het Isaac Raphele, vir die beskuldigdes, gesê.
Die staat het aangevoer Malema en sy medebeskuldigdes het hulself valslik voorgedoen aan die departement van paaie en vervoer in Limpopo wat daartoe gelei het dat ʼn tender van R52 miljoen aan On-Point Engineering toegeken is.
Selbie Manthata, sy vrou Helen Moreroa en sy broer Makgetsi Manthatha is Woensdag vrygespreek. Hulle is in September 2012 saam met Malema in hegtenis geneem.
Malema en direkteure van On-Point, Kagisho Dichabe, Lesiba Gwangwa en die Manthata-gesin, is aangekla van korrupsie, bedrog, geldwassery en swendelary. Dit is nie duidelik of die klagtes teen Dichabe en Gwangwa nog bestaan nie.
Hofdokumente het aangevoer dat Malema sakebande met Gwangwa het en dat Malema se Ratanang-familietrust indirek ʼn aandeelhouer van On-Point is. Die staat het aangevoer dat Malema ruimskoots voordeel getrek het uit die tenderbetaling aan On-Point en dat hy die fondse gebruik het om ʼn plaas en ʼn Mercedes-Benz te koop.
Malema het aan die koerant gesê die klagtes teen hom moet, in die lig van sy sakevennote se vryspraak, ook laat vaar word. -SAPA
Dis darem gerieflik. So ploeter hulle maar net nogsteeds aan op dieselfde trant en geen haan kraai daarna nie……………………. Hierdie land het sy gat gesien!