Malema se terugkeer na ANC “lagwekkend”, sê EFF

Julius Malema (17 Desember 2014) Foto: EFF, Facebook

Julius Malema (17 Desember 2014) Foto: EFF, Facebook

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het ʼn mediaberig dat sy leier Julius Malema na die ANC sal terugkeer, as “belaglik” verwerp.

“Ons wil dit onomwonde stel dat hierdie inligting vals is,” het Lehlohonolo Fana Mokoena, woordvoerder van die EFF, in ʼn verklaring gesê. “Malema het reeds reageer op die bewerings dat dit lagwekkend is.”

Die Citizen het berig dat Malema in gesprek is met die ANC om na die regerende party terug te keer. Malema is in 2012 uit die ANC-jeugliga geskors. Hy het ʼn jaar later die EFF op die been gebring.

Malema het Dinsdag op Twitter gesê hy sal nooit sy party verlaat nie. “Ek sal dit nooit aan my mense doen nie,” het hy gesê. “Die EFF bly nou en vir die res van my lewe my enige politieke tuiste. Ek sal met die rooi vlag begrawe word.”

Die ANC het ook die berig ontken. “Daar is geen gesprekke tussen die ANC en Malema nie,” het Zizi Kodwa, woordvoerder van die ANC, gesê. Hy het gesê die ANC sal nie enige persoon verwerp wat “huis toe wil kom” nie, omdat dit ʼn organisasie vir die mense is.

Die ANC en die EFF het ook die koerant se bewering dat EFF-LP Magdalene Moonsamy na die ANC sal terugkeer, verwerp. “Ons is nie bewus van haar terugkeer nie,” het Kodwa gesê. “As Malema en die ander vrywillig wil terugkeer, sal die ANC hulle altyd verwelkom.”

Mokoena het berigte van ʼn stryery tussen Moonsamy en Malema ontken. Hy het gesê sy het as lid van die parlement bedank om haar regsgraad na te streef. “Sy bly die tesourier-generaal van die organisasie en ʼn toegewyde lid van die EFF.”

Hy het gesê die party het nie enige gronde om te glo dat een van sy lede die bewerings aan die media gemaak het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.