Malema-sekwestrasie: Saak uitgestel

Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) Foto: enca.com

Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) Foto: enca.com

Die voorlopige sekwestrasiebevel teen Julius Malema, leier van die EFF, rakende sy uitstaande belastingskuld is in die hooggeregshof in Pretoria tot Junie uitgestel.

Regter Ferdi Preller het die saak tot 1 Junie uitgestel.

Malema het tydens ʼn hofverskyning in Augustus mediaberigte ontken dat Adriano Mazzotti, ʼn vermeende sigaretsmokkelaar, hom help om sy belastingskuld terug te betaal. Mazzotti word glo ook deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ondersoek vir smokkelary en belastingontduiking.

Die SAID het glo destyds versoek dat die saak uitgestel word om te bepaal waar Malema die geld kry om maandeliks sy belastingskuld te betaal.

Regter Bill Prinsloo het Malema in Februarie verlede jaar onder voorlopige sekwestrasie geplaas. Die saak is in Mei en weer in Augustus uitgestel. Malema het vroeër erken dat hy nie sy belastingsake hanteer het soos wat deur die wet vereis word nie.

Volgens hofdokumente skuld Malema die SAID R16 miljoen plus rente nadat hy tussen 2006 en 2010 nie sy belastingopgawes ingedien het nie. Die SAID het in 2010 met hom in verbinding getree oor sy versuim om die opgawes in te dien en dit het 18 maande geduur voordat hy die dokumente ingedien het.

Malema het ook nie sy Ratanang-familietrust vir belastingdoeleindes geregistreer nie en die SAID moes dit namens hom doen. Die SAID het ook beslag gelê op van Malema se besittings en eiendom om dit op ʼn veiling te verkoop.

ʼn Finale sekwestrasiebevel kan Malema se politieke loopbaan beïnvloed, aangesien hy in só ’n geval nie as lid van die parlement sal mag dien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

CHRISTA ·

As sy belasting R16 miljoen was, wat was sy inkomste? Dan het hy die vermetelheid om eiendom van ander te wil redistribueer. Hy kon dit eerder met sy eie gedoen het – dink hoeveel sou gebaat het? Dan sou hy ‘n groter heilige as Nelson Mandela gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.