Malema wen hofgeding na verwydering uit parlement

Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) Foto: enca.com

Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) Foto: enca.com

Die hoogste hof van appèl het Vrydag in die EFF-leier, Julius Malema, se guns beslis deur te bevind dat hy twee jaar gelede onregmatig uit die parlement verwyder is nadat hy gesê het die regering het die mynwerkers by Marikana “vermoor”.

Die appèlhof het ʼn vroeëre bevinding, deur die Wes-Kaapse hooggeregshof, ondersteun en bevind Thandi Modise, voorsitter van die nasionale raad van provinsies, het onwettig en irrasioneel opgetree. Die hof het in sy uitspraak beklemtoon die debatte in die parlement word onderskryf deur die reg op vryheid van spraak. “Vryheid van spraak en debatte in die parlement is sake van die hoogste grondwetlike belang. Vryheid van spraak is ʼn voorreg wat noodsaaklik is vir enige vrye raad of wetgewer,” het die hof gesê.

Malema het op 17 Junie 2014 ʼn gesamentlike sitting van die parlement en die nasionale raad van provinsies toegespreek. Hy het verwys na die Marikana-voorval in 2012, toe 34 stakende mynwerkers by Lonmin se Marikana-myn deur die polisie doodgeskiet is. “Hulle het gestaak vir R12 500 toe die ANC 34 van hulle vermoor het omdat hulle gestaak het,” het hy gesê.

ʼn Lid van die ANC het protes teen Malema se stelling aangeteken en Modise het gesê sy sal die volgende dag uitspraak lewer of Malema se stelling aanvaar word of nie. Modise het bevind Malema het die reëls van die parlement oortree deur die ANC van moord te beskuldig en hy is aangesê om die stelling terug te trek.

Hy het geweier en gesê wanneer die polisie daarin slaag om misdaadsyfers te laat daal, sê die ANC in die parlement die party het dit reggekry om misdaad te verminder. “Wanneer die polisie mense doodmaak, wil julle nie hê ons moet hier [in die parlement] staan en sê die ANC het mense doodgemaak nie,” het hy gesê. Modise het hom daarna beveel om die parlement te verlaat.

Malema en die EFF het die saak na die Wes-Kaapse hooggeregshof geneem en versoek Modise se bevinding moet ongeldig verklaar word en sy moet beveel word om hom en sy party in die openbaar om verskoning te vra. Die hooggeregshof het in Malema se guns beslis dat Modise se besluit ter syde gestel moet word, maar het gesê daar is geen grondslag vir die hof om te beveel dat sy Malema moet om verskoning vra nie. Modise het die saak na die appèlhof geneem.

Die appèlhof het in Malema se guns beslis en gesê LP’s moet te alle tye vryheid van spraak in die parlement geniet. “Hierdie voorregte kan egter nie as ʼn lisensie bskou word om die bedrywighede van die parlement te ontwrig en die parlement te verhoed om sy pligte uit te voer nie. Reëls en orde beperk dus hierdie vryheid van spraak tot ʼn mate,” het die hof gesê.

Die hof het bevind Malema se woorde kom neer op wettige kritiek teenoor die regering, aangesien die polisie beheer word deur ʼn ANC-geleide regering.

Modise se appèl is met koste van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Loeis ·

Dit is waarop dit neerkom, Jou bydra. Wanneer mens in ‘n hofgeding met iemand hardkoppig wie belasting geld wil mors in ‘n stryd betrokke raak moet jy daardie persoon in sy of haar persoonlike hoedanigheid as respondent voeg. Dit maak die wereld se verskil om hul oortuiging te toets.

AH ·

Dit is omdat hulle die hof se tyd met sulke st**t mors dsat hulle nie by moord sake kan uitkom nie

Gatvolverby ·

Okay Malema het nou gewen in die een. Die hofsaak het nou geld gekos om op die einde hierdie uitspraak te gee…so wat NOU? Wat sal die uitspraak nou verder lewer? Geld is gemors net om te se malema was reg en baleka was verkeerd wat bring die geld mors enige iemand in die sak?

Joann ·

Maroela wat het jul teen my dat my kommentare nie geplaas word? Daar is kommentare wat erger as myne is. ?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.