Malmesbury: Alle ontsnaptes weer vas

Argieffoto

Al die gevangenes wat Vrydag uit die Malmesbury-gevangenis in die Wes-Kaap ontsnap het, is aangekeer en weer agter tralies.

Die ministerie van justisie en korrektiewe dienste het Sondagoggend in ’n verklaring bevestig dat 68 ontsnapte gevangenes binne 76 uur na die ontsnapping weer in hegtenis geneem is.

Chrispin Phiri, woordvoerder van die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, het aan Maroela Media bevestig dat slegs 68 gevangenes uit die fasiliteit ontsnap het nadat die departement aanvanklik vermoed het dat 69 gevangenes uit aanhouding ontsnap het.

Volgens Phiri het dit intussen geblyk dat een van die gevangenes wat aanvanklik as vermis aangemeld is, nooit die fasiliteit verlaat het nie en bloot van sel verskuif het.

Ronald Lamola gedurende sy besoek aan die Malmesbury-gevangenis in die Wes-Kaap. (Foto: Verskaf)

Lamola het in die verklaring alle polisiebeamptes, korrektiewe beamptes en gemeenskapslede bedank wat die naweek na die ontsnapte gevangenes help soek het.

Maroela Media het vroeër berig die minister het Saterdag gedurende ’n besoek aan die gevangenis die publiek daarvan verseker dat die gevangenes gestraf sal word.

Dít nadat die gevangenes Vrydagmiddag korrektiewe beamptes tydens oefening by die fasiliteit oorval, die sleutels gevat, drie beamptes in ʼn sel toegesluit en ander selle oopgesluit het voordat hulle deur die hoofingang en deur die dak ontsnap het.

Nege korrektiewe beamptes het ligte beserings en kneusplekke in die voorval opgedoen.

Die betrokke fasiliteit is intussen onder beheer gebring, terwyl sommige gevangenes wat moeilik beheerbaar was na maksimumsekuriteitfasiliteite in die omgewing oorgeplaas is.

Die Malmesbury-gevangenis is tans onder streng afsondering geplaas om stabiliteit in die fasiliteit te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

johanf ·

Goed gedoen, vonnis hulle met verdere 5+ jaar, ek moes lag vir nommer 69 en sy nuwe sel….

christo ·

Die videos op sosiale media het beeldmateriaal het getoon hoe selfs die alarmmaatskappye se gewapende reaksie ook die ontsnapte aangekeer het. ‘n Uitstekende toonbeeld van samewerking in ‘n gemeenskap.

Helgard ·

Hulle is nie ‘gevang’ nie, hulle het self teruggekom. Te onveilig buite die tronk, en hulle was honger. Of so dink ek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.