Malmesbury-gemeenskap restoureer poskantoor saam

Teenwoordig tydens ‘n dankie-byeenkoms vir almal wat die restourasieprojek moontlik gemaak het, is borge, landbou- en sakekamerbestuurslede, personeel van Poskantoor SA en die Swartland Munisipaliteit. 

Deur Sarie Marais-Nell

Hoe gemaak as die historiese poskantoorgebou in jou middedorp die lêplek van ongewensde elemente raak, en fondse om die gebou te restoureer ontbreek? Die antwoorde het nie dadelik gekom nie, maar sedert Malmesbury se dorpsleiers hieroor koppe bymekaar gesit het, is die gebou binne vier maande pragtig herstel. Hierdie gebou, wat uit die 1930’s dateer, het sy waardigheid teruggekry, en so ook mense se vertroue in die samelewing. Sarie Marais-Nell vertel:

Die ongemak om te gaan pos uithaal by Malmesbury se poskantoor in die middel van die dorp, het die laaste jare al erger geraak vir mans en hul vroue. In die verlede was dit ʼn ‘stop-die-bakkie-kry-jou-pos-aktiwiteit’, maar sedert leeglêers al meer daar begin rondhang het, het dinge ingewikkeld en onveilig geraak. Dit het beplanning begin vra: ‘Wat is die veiligste tyd van die dag, week of maand om te gaan pos haal? Sal my vrou of kind die pos uithaal of moet ek eerder self gaan?’

Dit was nie net die gemors en reuke rondom die posbusse en die skaduboom daar naby nie, maar ook bedelaars se eise wat hierdie dilemma vererger het.

ʼn Vorige voorsitter van die plaaslike landbouvereniging, Truter de Kock, het reeds herhaaldelik dorpskoerante gehaal omdat hy op eie koste die omgewing skoongemaak en gevaarlike boomtakke afgemaak en weggery het. Die omgewing rondom die poskantoorgebou het die dorp se beeld geskend, al is daar ʼn skoonmaakdiens wat soggens nog voor sonsopkoms die middedorp netjies skoonmaak volgens ʼn kontrak met die plaaslike munisipaliteit.

Weldoeners het begin wonder of dit ʼn fout was dat hulle jare gelede ʼn netjiese afdak bo-oor die posbusse gebou het. Weens die afdak en naburige boom se lekker skaduwee, het hierdie omgewing net ʼn lekker lêplek geraak vir verkeerde elemente. Veral landbouers het hande in die hare gesit hieroor.

Intussen het die Swartland Munisipaliteit en Malmesbury Sakekamer gereeld briewe van ontstoke posbuseienaars hieroor gekry. Sake het eers koers gekry toe Janus le Roux, ʼn boer wat ook op die sakekamerbestuur dien, ʼn vergadering met alle rolspelers in hierdie verband gereël het.

In dieselfde tyd toe talle poskantore regoor die land gesluit is, kon Malmesbury se leiers hul nuutgerestoureerde poskantoor vier – alles met donasies uit plaaslike bronne.
(Foto: Lennard van Wyk)

Vroeg in Junie het ʼn handjievol dorpsleiers vergader: ʼn verteenwoordiger van Poskantoor SA, die munisipale bestuurder, manne van Agri Malmesbury, die sakekamerbestuur, ʼn sakevrou wat in die klein ure van die nag koerante in die dorp aflewer en reeds gereël het dat ʼn glasmaatskappy die gebou se stukkende ruite vervang, die kontrakteur wat namens die munisipaliteit soggens die strate skoonvee plus ʼn entrepreneur wat herwinning en skoonspuitdienste lewer.

Riaan de Jager, Poskantoor SA se Wes-Kaapbestuurder, het die vergadering aangemoedig om self verantwoordelikheid vir die restourasieproses te neem. “Poskantoor SA het geen begroting vir instandhouding en restourasie nie; ons sal dit baie waardeer as julle self die gebou van verval kan red. Hermanus se mense het onlangs ook uit eie sak hul gebou geverf,” moes die vergadering hoor.

De Jager se enigste versoeke was dat alle veiligheidsprotokol gevolg moet word, dat daar gereeld met Poskantoor SA se mense gekommunikeer word oor elke nuwe fase van die restourasieproses en dat die gebou in ʼn ligte kleur geverf word volgens erfenisriglyne.

Joggie Scholtz, die munisipale bestuurder, het hul ondersteuning in terme van kundigheid en advies beloof, veral oor die herstel van historiese geboue, maar ongelukkig nie met fondse nie.

Soos met elke vergadering van sy soort, is daar foto’s geneem en daar is onderneem om kort na die wintervakansie met fondswerwing te begin.

Groot was die ontnugtering egter toe landbouers en sakekamerlede Juliemaand agterkom dis ʼn ander situasie om ná die pandemie geld vir sulke projekte in te samel. Bitter min mense het in Julie-na-die-pandemie kans gesien vir sulke skenkings.

Intussen het berekeninge getoon dat die projek veel duurder as R300 000 sal kos.

Alles het in onsekerheid gehang tot ʼn sakekamerbestuurslid in die middel van Augustus op ʼn Sondagaand ʼn e-pos ontvang wat alles verander het: Malmesbury se Mount Royal Landgoed het ʼn trustfonds waarmee hulle grootskaalse hulp met finansiering vir die poskantoorgebou aanbied.

“Die fokus is om hande te neem met sakeleiers en die middedorp,” het Corlia Spies, voorsitter van die trustfonds verduidelik. “Die fonds is in 2007 deur die ontwikkelaar van Mount Royal Landgoed gestig en doen al jarelank goeie werk in Malmesbury.”

Hierna was die bal aan die rol. Plaaslike kontrakteurs is aangestel met die klem daarop om sover moontlik alle dienste en produkte plaaslik te verkry as deel van die sakekamer se ‘Koop Plaaslik-beleid’.

Tydens die vergadering in Junie wat die bal aan die rol gesit het, is Janus le Roux (Malmesbury Sakekamer en Agri Malmesbury), Riaan de Jager (SA Poskantoor), Brian Siebritz (voorsitter van Malmesbury Sakekamer), Lennard van Wyk (Sakekamer) en Petri Bosch (enterpreneur).

Binne 22 werksdae was die hele poskantoorgebou weer ʼn aantreklike bejaarde dame, nuutgeverf en herstel van haar kroontjie tot by die toontjie; van die dak tot by nuutgeverfde strepe op die parkeerterrein.

Swartland Munisipaliteit het woord gehou en het Neville Quickfall, hul kenner vir die instandhouding van historiese geboue, beskikbaar gestel vir die projek. Intussen het ʼn afgetrede sakeman, Simon Kotze, sy vorige kollegas een vir een besoek met die versoek om bydraes te lewer vir hierdie projek wat moes dien as ʼn bewys dat die dorp se mense steeds kan saamwerk.

Danksy Kotze se ywer het meer sakemanne vrymoedig gevoel om hul kleinerige bydraes te stuur – R1 500’e was welkome druppels wat die emmer gevul het. Verder het vele kontrakteurs en ʼn verfwinkel hul rekeninge so laag as moontlik gemaak of ʼn groot afslag in hul rekening ingewerk.

Die hele projek het ingesluit die skoonspuit, seël en verf van die dak; die vervang van ou geute; die herstel en behandel van houtwerk en diefwering (die gebou het nog outydse houthortjies); die verf van mure, stoepe, posbusse en parkeerstrepe; die vervang van die stukkende plafon in die voorportaal; die herstel van watertoevoer na die toilette en badkamers; die aanbring van buiteligte vir die beveiliging van die parkeerarea; die omheining van posbusse, en die afhaal en vernuwing van ligborde. Na versoeke uit die gemeenskap is ʼn oprit by die voorstoep aangebring ter wille van persone wat moeilik loop.

In dieselfde tyd toe talle poskantore regoor die land gesluit is, kon Malmesbury se leiers hul nuutgerestoureerde poskantoor vier – alles met donasies uit plaaslike bronne.
(Foto: Lennard van Wyk)

Tydens ʼn dankie-sê-byeenkoms langs die nuut-omheinde posbusse, het De Jager sy dank aan die gemeenskap betuig en vertel dat Wellington se mense ook nou hul dubbelverdieping-poskantoor self restoureer.

“Dis sulke aksies wat die ware aard van ons land se mense en hul karakter openbaar,” het De Jager bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Franz ·

Knap gedaan,kyk nou net wat gebeur as mense saam staan,en iets posetiefs doen terwyl ander alles vernietig.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die minister en die poskantoor se top bestuur spog seker met die opgeknapte gebou.

Danie ·

Die probleem is hoe meer jy vir hulle doen hoe meer verwag hulle hulp van die gemeenskap.

Ronél ·

Hande uit die moue……………as almal net wil saamwerk. Knapgedaan.

Piet ·

Die poskantoor in Nigel kan maar sy deure sluit, uitsluitlik oor die werknemers se houding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.