Mamelodi weer rustig ná betogings oor busse

Die bus waarop daar losgebrand is. Foto: JacarandaFM/Twitter

Die bus waarop daar losgebrand is. Foto: JacarandaFM/Twitter

Gemoedere het bedaar in Mamelodi, Pretoria ná gewelddadige betogings oor busroetes waarvan die Putco-busmaatskappy vroeër gebruik gemaak het.

“Die polisie behou steeds ʼn sterk teenwoordigheid totdat alles na normaal teruggekeer het,” het superintendent Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane metropolisie, gesê. “Daar was nog nie weer enige gewelddadige voorvalle nie.”

Maroela Media het vroeër berig vyf persone, insluitend ʼn busbestuurder, is beseer nadat hulle Vrydag in ʼn bus geskiet is toe taxi-operateurs geweier het om die nuwe busmaatskappy, Autopax, toegang te bied tot die winsgewende roetes waarvan Putco jare lank gebruik gemaak het.

Taxibestuurders het Woensdag glo een van Autopax se busse met klippe bestook toe dit die depot in Mamelodi verlaat het. Die taxi-operateurs eis dat die regering ʼn subsidie vir taxi’s implementeer soos met Putco, en dat hulle toegelaat word om die roetes te bedien wat Putco gebruik het.

Mahamba kon nie mediaberigte bevestig dat meer as 20 taxi’s Maandag geskut is omdat dit sonder permitte bedryf is nie. “Ek kan nie daaroor kommentaar lewer nie. Ons sal later ʼn persverklaring daaroor uitreik.”

Putco, wat deur die regering gesubsidieer is, het vroeër vanjaar bevestig dat hy van voornemens is om sy bedrywighede in verskeie gebiede in Gauteng te kanselleer, aangesien die roetes nie finansieel lewensvatbaar is nie.

Die departement van vervoer in Gauteng het daarna met Putco onderhandel om tot 30 Junie dienste te lewer. Putco het gevolglik agt van die kontrakte nie hernu nie en die regering is gedwing om in te gryp om seker te maak dat dienste steeds intussen aan pendelaars gebied word.

Autopax-busdiens, wat deur die staatsbeheerde Passasierspooragentskap (Prasa) bedryf word, is deur die departement aangestel om vir drie maande lank die roetes te bedien.

Die polisie begelei die busse tussen Mamelodi en die middestad van Pretoria ná die skietery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.