Mamphela Ramphele handig die leisels oor

Mamphela Ramphele

Mamphela Ramphele

Mamphela Ramphele, die leier van Agang SA, het Donderdag in ʼn ope brief op die party se webwerf gesê sy gaan tydelik ʼn ruskans uit die politiek neem.

“Ek het altyd gesê ek was ʼn brug en sou seker maak dat die leisels op ʼn geskikte tyd aan ʼn nuwe generasie leiers oorhandig word,” het Ramphele gesê. “Ek gaan ʼn tydjie neem om oor Agang SA se pad tot dusver te besin. Ek sal dan terugkom om die party en Suid-Afrika saam met julle almal op te bou.”

Sy erken haar party se prestasie tydens vanjaar se algemene verkiesing was vir haar ʼn teleurstelling. “Maar watter standpunt ons ook al mag hê, dit was wonderlik om te sien dat miljoene mense stem en die politieke vryheid laat voortleef waarvoor soveel baklei, en soveel gesterf het.” Klik hier om haar volledige brief te lees.

Agang SA het 52,350 stemme, of 0.28%, tydens die verkiesing verwerf, asook twee setels in die  parlement. Die party het Donderdag die twee kandidate aangekondig wat dié setels gaan vul. Die twee is Mike Tshishonga, die party se voorsitter, en Nyameka Mguzulo, die jeugforum-koördineerder.

Ramphele het gesê sy sal beskikbaar wees om Mguzulo en Tshishonga by te staan. Sy het bygevoeg dat die party harder en slimmer gaan werk om vordering in 2016 se plaaslike verkiesing te maak. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peter Says ·

Politiek is nie vir sissies nie. As dit te warm raak in die kombuis, moet daar n plan gemaak word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.