Mamphela Ramphele uit Agang geskors

Dr. Mamphela Ramphele

Dr. Mamphela Ramphele

Mamphela Ramphele, die leier van AgangSA, is Sondag geskors hangende die uitkoms van ʼn tugverhoor.

“Die tugverhoor sal na verwagting binne die volgende twee weke plaasvind,” het Andries Tlouamma, die party se adjunkpresident, gesê.

Ramphele is geskors omdat sy glo belangrike besluite geneem het sonder om die party se uitvoerende komitee te raadpleeg.

“Ramphele het ʼn taakspan aangestel en die uitvoerende komitee ontbind sonder om ons te raadpleeg. Sy het ook besluit wie parlement toe gaan sonder om ons te raadpleeg,” het Tlouamma bygevoeg.

Phillip Machanick, AgangSA se tussentydse woordvoerder, het egter gesê Ramphele se skorsing dra nie water nie. “Ek dink nie regtig iemand het die mag om haar te skors nie,” het Machanick gesê. “Die besluit om die ou komitee te ontbind en weer saam te stel was grondwetlik. Die tugkomitee wat die saak moet hanteer, is nie geraadpleeg nie,” het Machanick gesê. Volgens Machanick wil Tlouamma se faksie hul eie komitee en tugkomitee gestig het sonder om enigiemand te raadpleeg. “Die vergadering wat hulle saamgeroep het, het buite die normale prosedures plaasgevind.”

Tlouamma het gesê Ramphele is betrokke in ʼn bedrogondersoek en is daarom nie geskik om die party te lei totdat haar sy onskuldig verklaar is nie. Klik hier om meer te lees oor die bewerings van bedrog.

Tlouamma het gesê voorsitter Mike Tshishonga sal as die party se president waarneem totdat die aanklagte teen Ramphele afgehandel is. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Demokraat ·

Haar onlangse skielike “bedanking” uit die DA, het alreeds daarop gedui dat Mamphela Ramphele nie goed nadenkend is nie – sy openbaar meer van ‘n impulsiewe manier van optrede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.