Man 11 jaar ná sy dogter op einste kleinhoewe vermoor

Jan en Kitty Muller (Foto: Verskaf)

Jan Muller (69) se liggaam is Maandag gevind, enkele meter van waar sy dogter sowat 11 jaar gelede op ʼn kleinhoewe in Mnandi buite Centurion vermoor is.

Arina Muller (29) is in 2012 ook tydens ʼn aanval op dié kleinhoewe buite Centurion doodgeskiet.

Volgens Ian Cameron, woordvoerder van die gesin, het Jan en sy vrou, Kitty (65), Maandag ná 19:00 buite op die stoep gesit toe hulle van agter deur mans oorrompel is. Volgens inligting was daar tussen drie en vyf mans op die toneel.

“Jan is verskriklik aangerand en vermink. Hy is met ʼn stomp voorwerp geslaan en verskeie kere met ʼn mes gesteek,” vertel Cameron.

Kitty is ook met ʼn mes aangerand en in die egpaar se slaapkamer vasgebind.

“Die buurman het blykbaar ʼn harde geluid gehoor – vermoedelik die tannie (Kitty) wat skreeu – en daarop gereageer. By sy aankoms op die kleinhoewe het die aanvallers reeds gevlug.”

Jan is by die huis se deur met sy gesig na onder in ʼn groot plas bloed aangetref. “Hy het ernstige steekwonde en slaanwonde gehad.”

Soos vroeër berig is Jan op die toneel dood verklaar.

Kitty is in die slaapkamer aangetref, met ʼn ernstige steekwond in die bors.

“Lede van die gemeenskap, nooddienste en die polisie is ontbied en Kitty is na die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion gehaas vir verdere mediese behandeling. Sy het baie bloed verloor. Sy is dadelik vir skanderings gestuur om te bepaal of sy enige inwendige bloeding opgedoen het.”

Kitty is tans in ʼn kritieke dog stabiele toestand.

Volgens Cameron is daar gerugte dat die egpaar se selfone gebuit is, maar die polisie kon dit nog nie aan Maroela Media bevestig nie.

Ao. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, het wel bevestig ʼn saak van moord, poging tot moord en huisroof is aanhangig gemaak.

“Nog niemand is in hegtenis geneem nie en alle leidrade word opgevolg,” sê Van Dyk.

Maroela Media het vroeër berig Arina is op 5 Junie 2012 voor haar ouers op die kleinhoewe doodgeskiet.

Sy het omstreeks 21:00 van die gimnasium af tuis gekom toe sy onverhoeds deur twee aanvallers by die huis se deur betrap is. Na wat verneem word, het die aanvallers agter haar ingeglip toe sy by die hoewe ingery het.

Jan se liggaam is Maandag sowat vier meter van waar Arina weens haar skietwonde inmekaargesak het, aangetref.

Volgens Cameron is die twee aanvalle waarskynlik nie verwant nie, omdat die modus operandi verskil.

Hy sê aanvalle op kleinhoewes in die Mnandi-omgewing is die laaste 15 jaar ʼn groot probleem. Maroela Media het ook vroeër berig dat inwoners van dié gebied vrees vir hul lewens weens gewelddadige opstande deur onwettige grondbesetters. Na wat verneem word is dié besetters steeds nie van die grond verwyder nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Misky ·

So bitter tragies en die arme tannie Kitty nou alleen agter gelaat. Maar plaasmoorde word mos ontken in ons land en dit bestaan nie. Daai moorddadige en opstandige besetters word aangehits deur Malema en sy maats. Raak van hulle ontslae en wettige grondeienaars sal kan slaap saans.

AmY ·

En dan is daar ‘n sekere Sloet-ou wat meer gepla is oor Steve Hofmeyr as oor die misdaad in die land

Ilze ·

Ek gaan nou soos ‘n volstruis maak en my kop in die sand druk. Ek kan net eenvoudig nie meer hierdie tipe van berigte hanteer nie. Wat se ding is so onmenslik

Henker ·

Ek het die mense persoonlik geken, wat n plat op die aarde en wonderlike egpaar,dat hulle so afgemaai moes word soos diere. So wreedaardig. God slaap nie, hy sal die skuldiges toereken!

Casper ·

Die modus operandi is nie in alle gevalle dieselfde nie tensy haar moordenaars gevang en gevonnis is,maar dit klink nie of hulle gevang is nie.Hoekom is die grondbesetters nog nie verwyder nie

Piet ·

Begin meer en meer wonder of die 1992 referendum nie eerder ‘n nee stem moes gewees het nie.

Christine ·

Ons almal is dit eens- dis ‘n gruwelike misdaad. Ons praat en ons praat.. .. ….. en NIKS verander nie. Ons word stelselmatig vermoor en uitgeroei……

Schalk ·

‘n Mens word nie ‘n krimineel gebore nie! Die opruiende en aanhitsing is onverandwoordelik deur politici

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.