Man 158 dae in hospitaal; oorleef Covid-19

Winston Spencer Cogill sterk tuis aan nadat hy Covid-19-longontsteking opgedoen het en 122 dae in die intensiewe sorgeenheid (ICU) van die Groote Schuur-hospitaal deurgebring het. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Winston Spencer Cogill, ʼn 54-jarige data-ontleder van Dieprivier in Kaapstad, sterk tuis aan nadat hy Covid-19-longontsteking opgedoen het en 122 dae in die intensiewe sorgeenheid (ICU) van die Groote Schuur-hospitaal deurgebring het.

“Hoe ek dit gemaak het, weet God alleen,” het hy aan die webwerf Good Things Guy gesê. Volgens hom het die hospitaal sy vrou twee keer ingeroep om afskeid te neem, maar wonder bo wonder het hy herstel. Hy is na ʼn volle158 dae in die hospitaal ontslaan.

Cogill het in Oktober verlede jaar griepsimptome ervaar en is toe in die Victoria-hospitaal opgeneem voor hy na Groote Schuur oorgeplaas is. Hy is eers later na die intensiewe sorgeenheid geskuif.

“Dit was en is steeds ʼn emosionele ding om deur te maak. Om so lank in die hospitaal te wees was frustrerend want ek kon glad nie my vrou, 21-jarige dogter of die res van my familie gesien het nie,” vertel Cogill.

Cogill is tot op hede die pasiënt wat die langste in ʼn intensiewe sorgeenheid was en oorleef het. In ʼn video deur GroundUp vertel hy dat dit ʼn baie moeilike ervaring was, maar dat die mediese personeel van Groote Schuur op uitsonderlike wyse na hom omgesien het. Gedurende hierdie tyd was hulle ook die enigste mense met wie hy interaksie gehad het.

Nie net was die verpleegsters uiters professioneel nie, maar het boonop uit hul pad gegaan om hom op te beur. Cogill vertel: “Sommige sou net my hand kom vashou en vir my sing. Op my 100ste dag in intensiewe sorg het ʼn haarkapper sommer my hare ook kom sny.”

Cogill sê dit is alles te danke aan God se genade en die wonderlike personeel dat hy vandag nog leef.

“Die res van die wêreld moet ʼn draai by dié hospitaal maak sodat hulle kan sien hoe werklike ICU-sorg gedoen behoort te word.”

Hy is steeds in ʼn rolstoel en moet weer leer loop. Hy is steeds afhanklik van ʼn ventilator en sal nog geruime tyd fisioterapie en ander mediese behandelings ontvang voor hy weer heeltemal gesond is.

Bronne: GroundUp, Good Things Guy en Cape Talk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Tiptol ·

Hoop ook hy sit nie met ‘n klomp rekeninge waaroor hy moet bekommer nie.

Esme ·

Dit is voorwaar ‘n wonderwerk! Ek is so dankbaar dat Winston wel Covid 19 oorleef het. Ek was vir 25 dae in die hospitaal en vir my, was dit ‘n ewigheid. Winston, ons dra jou op aan ons Hemelse Vader en dank hom vir jou lewe. Genade is beslis ‘n onbeskryflike Voorreg.
Baie sterkte met die paadjie vorentoe en mag jou rehabilitasie glad verloop.

Blomme ·

Dis nou goeie nuus.. Baie sterkte aan Winston in sy verdere herstel proses.

Yvonne ·

Dankie Here dat ek opnuut besef ons lewens is in U hande….sterkte met jou herstel pad Winston

Leonard ·

Sterkte, was self 9MAANDE NA mekaar in 6 verskillende hospitale.
Waarvan EERSTE 3 maande in koma
GOD’S GENADE ÍS WONDERBAAR AMEN
Jare lange rehabilitasie het gevolg!

Belinda ·

Deur God is alles moontlik. Prys die Heer! Moet nooit opgee nie. Ons almal hoop nou op n vinnige herstel, en baie dankie aan die hospitaal staf wat nie opgegee het nie, ek dink dis moeilik vir daardie mense om elke dag met siek mense te werk. Baie lei aan depressie maar is getrou aan hul werk en dis deur sulke mense dat mnr Coghill dit oorkom het.

Toy ·

Grootte Schuur hospitaal is mos ‘n staatshospitaal. Ek het al gehoor dit is baie netjies daar en die personeel is oulik en professioneel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.