Man (38) vas ná moord op leerder (17)

Argieffoto

ʼn 38-jarige man het homself Woensdag aan die polisie oorgegee in verband met die moord op ʼn gr. 10-leerder in Kuruman.

Lt.kol. Dimakatso Mooi, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig die man het homself Woensdag in Batlharos in Kuruman aan die polisie oorgegee.

Hy sal Vrydag in die Mothibistad-landdroshof op aanklag van moord verskyn. Mooi het gesê die omstandighede waaronder hy die leerder glo geskiet het, word ondersoek.

Nomalungelo Gina, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor basiese onderwys, het die moord op die 17-jarige leerder veroordeel.

Gina het haar bekommernis uitgespreek oor die skool se veiligheidsmaatreëls. “Dit is inderdaad hartseer. ʼn Jong lewe wat ʼn blink toekoms kon gehad het, is van ons gesteel in ʼn plek wat veronderstel is om ʼn veilige spasie te wees. Dit is sekerlik die laaste ding wat die jong man se familie gedink het toe hy daardie oggend die huis vir skool verlaat het.”

Sy het gesê gemeenskappe moet betrokke raak by die veiligheid van leerders terwyl hulle by die skool is.

“Gemeenskappe moet verseker dat misdadigers nie toegelaat word om weg te kom met sulke verskriklike misdade nie. Hulle moet verseker dat die misdadigers bewus is dat daar nêrens is om weg te kruip sou hulle poog om ons skole binne te gaan en misdade gaan pleeg nie.”

Maroela Media het vroeër berig  Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement van onderwys in die Noord-Kaap, het gesê die leerder is by die Makgolokwe Middle School in Kuruman geskiet.

Die voorval het tydens skoolure op die skoolterrein plaasgevind. Van der Merwe het bygevoeg daar is sedert die voorval beradingsdienste vir die leerders en die onderwysers by die skool aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.