Man (57) sterf ure ná rugbytoets: ‘Hy wou nooit só sterf’  

Barney Venter (Foto: Facebook)

Dit was glo een van sy grootste vrese om aan ʼn hartaanval te sterf, maar nou is die 57-jarige Barney Venter van Welkom in die Vrystaat juis op dié manier uit die lewe geruk – dít nadat hy en ʼn groep vriende enkele ure van tevore ʼn rugbywedstryd saam bygewoon het.

Venter, ʼn G4S-streeksbestuurder in die Vrystaat, het Saterdag kort ná ʼn toets tussen die Springbokke en Engeland in Bloemfontein buite ʼn hotel inmekaargesak.

Louis Kotze, Venter se boesemvriend, sê Venter se dood kom as ʼn groot skok vir sy naasbestaandes én die gemeenskap van Welkom.

Volgens Kotze het Venter en ʼn ander vriend, Christo Terblanche, besturende direkteur van G4S, Saterdag saam met ʼn groep vriende na die kragmeting in Bloemfontein gaan kyk.

“Barney was volgens Christo in jolige luim,” sê Kotze. “Hulle het die toets gekyk, saam gekuier en toe iets gaan kry om te eet by ʼn restaurant in die omgewing. Omdat hulle Vrydagaand by Barney in Welkom oornag het, het hulle sommer ʼn hotel in Bloemfontein bespreek sodat hulle eers die volgende dag hoef terug te ry. Hulle was nog nie in die hotel nie, toe is Barney dood.”

Kotze sê Terblanche, Barney en die res van die vriende het met die motor buite die hotel stilgehou en na die voorportaal geloop. Terblanche het glo in die hotel besef dat Barney nié tussen die groep vriende was nie en gaan ondersoek instel.

“Christo het na die motor geloop, en toe hy aan die anderkant van die motor kom, het hy Barney op die grond sien lê. Hy het aan hom gevoel en Barney het geen hartklop meer gehad nie – hy was reeds dood.”

Kotze sê hy moes Venter se liggaam gaan uitken. Volgens hom het die nadoodse ondersoek vasgestel dat Venter ʼn “massiewe hartaanval” gehad het.

“Hy was altyd so verskriklik bang om dood te gaan aan ʼn hartaanval,” sê Kotze. “Hy het altyd baie medisyne en ekstra pille by hom gedra. Miskien was hy nie soseer bang vir die hartaanval nie, hy wou net nie doodgaan nie. En toe word sy donkerste nagmerrie nou waar. En om dit selfs erger te maak het die nadoodse ondersoek vasgestel dat hy reeds vroeër in sy lewe ʼn hartaanval moes gehad het. Een van sy hartkamers het glo nie gewerk nie, twee are was verstop en sy hart het onder geweldige druk gewerk omdat hy ʼn vergrote hart gehad het.”

“Die hele gemeenskap van Welkom rou oor Barney,” sê Kotze. “Hy was ʼn ongelooflik lojale en warm mens. Hy het ʼn ongelooflike passie vir sport gehad en was ʼn kranige Blou Bul-ondersteuner. Hy sou altyd tyd maak vir geselsies; selfs met mense wat hy nie ken nie. Sy dood is ʼn groot verlies vir die gemeenskap.”

Venter is die seun van drs. Pan en Martie Venter wat voor hul dood jare lank op Theunissen gepraktiseer het. Pan het glo ook jare gelede hartprobleme ondervind.

Venter word oorleef deur ʼn jonger broer. ʼn Begrafnisdiens word op 29 Junie om 11:00 uit die NG Moedergemeente Theunissen gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gesiggie ·

Sy grootste vrees, meskien het hy n voorgevoel gehad… n mens kan sien dat Barney n mense mens was… ek kan glo dat soveel mense hom gaan mis..nogal verbaas hoe baie hy na Worsie van Vetkoek Paleis trek… aan al Barney se vriende en sy Familie, mag jul vrede vind met die wete dat hy vir sy laaste oomblik saam sy vriende kon wees, en kon lag vir die laaste keer.. dat hy geen pyn hervaar het.. RIP Barney

Engel ·

Barney was verseker n mense mens en sou homself tekort doen om sy medemens te kon help. Hy het verseker n hart van goud gehad. Sy deur was altyd oop vir enige een.
Hy kon altyd grappies maak en lekker vir homself daaroor lag en se “Hoe lag ek nou vir my eie grap”.
Hy sal altyd voortleef in ons harte,
Rus in vrede Barney Venter….tot ons weer ontmoet…?

J O H A N N E S !!! ·

JAMMER AAN JOU FAMILIE SE VERLIES.
EXODUS 20
LEEF REG !!!!!
NO REGRETS!!

Stan ·

Baie simpatie & meegevoel aan Barnie se geliefdes oral in die wereld – Ek glo maklik dat MORE se 3de wen oor die rooies ook vir Barnie spesiale Hemelse plesier gaan bring……

Nettie ·

Hartseer …… simpatie aan die oorlewende broer, naaste gesinslede en familie.

Net een vraag: as hy soveel pille en medisyne saam rondgedra het, was hy seker onder doktersbehandeling vir sy hartprobleem en oorgewig? Hoe is dit dan dat sy vergrote hart, nie-werkende hartkamer en verstopte are nie opgemerk is met EKG’s/skanderings nie?

humor ·

Een van die belangrikste dinge om te doen as jy probleme met jou hart ondervind, is goeie oefening en om jou gewig in orde te kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.