ʼn Man, vermoedelik 68 jaar oud, is dood nadat hy Sondagmiddag van die tweede verdieping van ʼn woonstelblok in Pietermaritzburg geval het.
Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, sê die voorval het by ʼn woonstelblok in Northdale gebeur. Volgens Vermaak het paramedici net na 13:00 by die toneel opgedaag waar die polisie reeds die gebied afgesper het.
“Paramedici het die man gevind waar hy naby die gebou lê. Volgens omstanders het die man glo van die balkon van ʼn woonstel op die tweede verdieping geval,” het Vermaak gesê.
“Die man is ondersoek, maar ons kon niks vir hom doen nie en hy is op die toneel dood verklaar.”
Die presiese omstandighede van die voorval word deur die polisie ondersoek.