Man (69) verdrink by Strand

NSRI-redders (Foto: NSRI)

ʼn 69-jarige man het Maandag verdrink toe hy in die see by Die Strand in die Wes-Kaap gaan swem het.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê die man van Somerset-Wes het glo vroegaand naby ʼn pypleiding in die suidwestelike gedeelte van die strand gaan swem toe hy vermoedelik verdrink het.

“Lede van die publiek het sy liggaam in die branders gewaar en uitgehaal,” sê Lambinon.

“Die NSRI van Gordonsbaai, die polisie, die GBMed-ambulansdiens en ander nooddienste is om 18:36 na die toneel ontbied.”

Met paramedici se aankoms op die toneel is die man dood verklaar.

Die man se liggaam is aan die Wes-Kaapse patologiese diens besorg. Die polisie het ook ʼn geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.