Man (70) vermoor: ‘Geen geregtigheid is voldoende’

Argieffoto: Nico Strydom

Die familie van Aboo Baker Kooreyshi, die 70-jarige man van Wolmaransstad in Noordwes wat saam met sy vrou en dogter aangehou en koelbloedig vermoor is, is “gebroke en erg getraumatiseerd” ná sy dood.

ʼn Bron na aan die familie het Maandag aan Maroela Media vertel die hele familie is nog besig om die skok te verwerk ná sy moord sowat ʼn week gelede.

Maroela Media het vroeër berig gewapende rowers het Kooreyshi, sy vrou en sy dogter in hul huis oorrompel kort nadat hy van sonondergebed in die plaaslike moskee teruggekeer het. Die aanvallers het die gesin met toue vasgebind en vir geld gevra, voordat hulle Kooreyshi later vermoor het. Hulle het met sy vrou en dogter na ʼn kitsbank gery en geld onttrek, en hulle later langs die N12-hoofweg afgelaai.

“Sover ons kennis strek, het daar nog nie voorheen so iets in die gemeenskap van Wolmaransstad gebeur nie,” het die bron gesê. “Bowendien het daar nog nooit so iets in hulle familie gebeur nie – dit is ongelooflik traumaties en niemand weet hoe om dit te verwerk nie.”

Sy sê die rowers het glo beslag gelê op geld wat vir rekeninge en geld wat vir een of twee van Kooreyshi se werknemers bedoel was. Hulle het sy vrou en dogter glo hard geslaan, en ook hardhandig hanteer voordat die verdagtes vir Kooreyshi voor hulle oë vermoor het.

Volgens die bron sal Kooreyshi se vrou en dogter na alle waarskynlikheid sielkundige behandeling moet kry om die voorval te probeer verwerk.

“Daardie prentjie bly in ʼn mens se kop ingeëts, daar is nie wegkomkans nie. Hulle was in dieselfde vertrek gewees toe hy vermoor is, en hulle kon absoluut niks daaraan doen nie. Dit is nie iets wat hulle ooit sal vergeet nie.”

Sy sê Kooreyshi se vrou het nie skoene aangehad toe hulle haar en haar dogter langs die pad afgelaai het nie, en moes ʼn ver ent stap voordat ʼn minibus-taxi eindelik by hulle stilgehou het.

“Haar dogter het haar skoene uitgetrek en vir haar ma gegee. Hulle het na Wolmaransstad se kant begin loop toe ʼn taxi by hulle verbygekom het. Een van die insittendes het die dogter herken, en hulle het omgedraai. Die bestuurder van die minibus-taxi het toe vir Kooreyshi se vrou sy selfoon geleen, en hulle het ons gebel. Ons is toe na die huis toe waar ons saam met die plaaslike veiligheidsmaatskappy die deur oopgebreek het. Dis tóé dat ek sy liggaam daar sien lê het. Dit was ʼn geweldige skok.”

Volgens haar het niemand in die buurt enigiets gehoor óf onraad vermoed nie. “Dit is ʼn stil buurt, en ons bly baie naby aan hulle. Niemand het eers iets gehoor nie, dis wat dit so erg maak.”

Sy sê geen geregtigheid sal voldoende wees om reg te maak wat verkeerd gedoen is nie.

“Dalk het hulle gedink daar is meer geld in die huis as wat daar was. Ek is steeds nie seker hoeveel geld by die kitsbank onttrek is nie, maar dit moet ʼn klein bedrag wees – minder as R5 000. Dis nie ʼn rede om iemand se lewe te neem nie. Die feit bly staan, niks sal kan reg maak wat hulle gedoen het nie. Ons hoop net dat die familie weer eendag heel sal kan wees.”

Volgens haar het die verdagtes, wat volgens die polisie vyf mans is, Maandag in die Wolmaransstad-landdroshof verskyn op aanklag van moord, huisroof en ontvoering. Hulle moet weer op 7 Augustus in die hof verskyn wanneer hulle na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

manuela de villiers ·

Soveel onsinnige moorde, soveel getraumatiseerde mense. Ons harte gaan uit na elkeen wat sulke erge trauma moet verwerk. Daar is net te veel moordenaars op straat.

Ronell ·

Sterkte aan die familie, dit is altyd tragies wanneer ‘n mens se lewe onnodig geneem word.

Alida ·

Dit is n afgryslike walglike voorval. Niks wat ons se of doen kan hulle wonde genees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.