Man (89) geskiet, vrou ontvoer tydens kapingsdrama

John en Sheila Pilling in die hospitaal: Foto: Facebook via Blue Security

ʼn Bejaarde man moes Donderdag toekyk hoe kapers met sy voertuig, waarin sy gestremde vrou was, wegjaag oomblikke nadat die boosdoeners hom in die gesig geskiet het.

Die voorval het Donderdag omstreeks 12:15 in Sanderweg in New Germany, KwaZulu-Natal gebeur.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die man en sy vrou was in die voertuig toe hulle deur twee of drie verdagtes oorval is. Die man is in sy gesig geskiet en die verdagtes het met die voertuig weggejaag.

Brian Jackson, bedryfsbestuurder van Blue Security, het in ʼn verklaring gesê paramedici is na die toneel ontbied en het die man op die toneel gestabiliseer voordat hulle met hom na ʼn hospitaal gehaas het. Intussen het ʼn taakspan van die polisie, beamptes van private veiligheidsmaatskappye, lede van die plaaslike buurtwag en vrywilligers ʼn grootskaalse soektog na die ontvoerde vrou en gekaapte voertuig van stapel gestuur.

Zwane het gesê die vrou is later in die Molweni-gebied gevind en die voertuig is verlate in KwaDabeka gevind. Volgens Jackson het die vrou geringe beserings opgedoen en is sy na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas.

Blue Security het later op hul amptelike Facebook-blad die man en vrou as John (89) en Sheila Pilling geïdentifiseer en ʼn foto gedeel waar hulle in die hospitaal herenig word. “ ʼn Foto spreek boekdele. Ons het die liefde en verligting tussen John en Sheila vasgevang toe hulle herenig word ná hul verskriklike beproewing vanmiddag,” het die inskrywing gelui.

Volgens Zwane ondersoek die polisie sake van kaping, poging tot moord en ontvoering. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lollie ·

Nou sal ek daarvan hou om te weet wat was die doel hiervan. Selfs die kar is opgespoor. Jammer dat mense sulke dinge moet beleef. Al was hulle altwee ongedeerd laat dit tog maar ń letsel agter. Miskien nie liggaamlik nie maar geestelik. Nou is hulle lewe gevul met vrees elke dag. Groter marteling om so te lewe. Sterkte aan hulle. Wens ons kon hierdie tipe kriminele met wortel en tak uit ons samelewing kry!

Theresa ·

BAIE sterkte aan die twee bejaardes! Wat ‘n vieslike ding om aan mense te doen – ek hoop die skuldiges word gevang en gevonnis.

Ander Annie ·

Baie bly hulle is veilig. Spoedige beterskap. Ek hoop daardie kapers ontmoet vir Karma.

Johanna Botha ·

GEEN MAAR GEEN wet in orde in SA. Hulle is niks bang vir die polisie en as hulle gevang word sal ek BAIE verbaas wees.

Piet Boer ·

Dié tipe optrede kry jy nie in Botswana nie. Die rede is dat die samelewing deurgaans bewus is van die doodstraf vir sulke optrede. Terselfdertyd heers daar ‘n salige vrede in daardie land as gevolg van dié einste doodstraf; tot die renosters leef in vrede!
Mag die volgende koalisieregering die doodstraf terug bring.

Hannelie ·

Mens kan nie anders om daai wrewel gevoel van haat te ontwikkel nie. So bly die twee oumensies het niks ernstigs oorgekom nie.

Cherokee ·

Dit mag wel in Kwa-ZuluNatal gebeur het maar daardie skakers is seker uit Gauteng.
Die Natallers is nie so nie.

Chris ·

As dit wit op swart was Dan was dit rassisme. Wat sal ons hierdie voorval noem?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.