Man aangekeer wat van aanvalle op Intercape verdink word

‘n Onlangse aanval op ‘n bus van Intercape. (Foto: Twitter)

ʼn 28-jarige man is Saterdagoggend vroeg in hegtenis geneem op aanklag van moord en poging tot moord ná aanvalle op Intercape-busse in Kaapstad in Maart en April 2022.

Die 35-jarige Bangikhaya Machana is in April 2022 geskiet toe hy ʼn Intercape-bus bestuur het. Hy het drie dae later in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Nóg ʼn aanval het in Maart plaasgevind waar skote op ʼn Intercape gevuur is.

Brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie, sê ʼn span speurders wat ernstige gewelddadige misdade ondersoek, het die 28-jarige verdagte in Klapmuts in die Kaapse Wynlande in hegtenis geneem.

“Hy staan tereg op aanklag van moord en poging tot moord in verband met die twee voorvalle en sal Maandag in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn.”

Die span, wat op vervoerverwante geweld fokus, ondersoek ook steeds voorvalle wat met aanvalle op Intercape-busse verband hou. “Die inhegtenisneming is ʼn deurbraak in pogings om aanvalle op langafstand busse te voorkom,” voeg Potelwa by.

Die bestuur van die SAPD in die Wes-Kaap het die span geloof vir hul pogings om diegene, wat vir die geweld verantwoordelik is, aan te keer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nie Verbaas ·

Ek wonder of hulle die moed sal hê om langafstand taxi eienaars te arresteer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.