Man aangekla ná hondjie erg brand

Duke, die baba Pitbull wat deur sy eienaar mishandel is (Foto: Bloemfontein SPCA, Facebook)

Waarskuwing: Die inligting in hierdie berig kan sensitiewe lesers ontstel.

ʼn Saak van dieremishandeling is die afgelope naweek teen ’n jong man van Batho, Bloemfontein, aanhangig gemaak nadat hy glo sy babahondjie se vel aan sy regter voorpoot met kookwater gebrand het. Die 12 week oue Pitbull-kruising se poot moes intussen geamputeer word weens ernstige infeksie. Die DBV is ook steeds op die spoor van sy eienaar, wat homself glo tans in ʼn ander provinsie bevind.

Duan Matthee, ʼn inspekteur van die DBV in Bloemfontein, sê ʼn 15-jarige seun het Saterdag by die DBV aangeklop en gevra dat beamptes sy buurman se hondjie, wat ernstig beseer is, help. Die inspekteurs is dadelik na die huis in Batho.

“Ons was geskok toe ons die hondjie, wat intussen Duke gedoop is, gesien het. Die vel aan sy regter voorpoot was heeltemal af. Sy been en poot was opgeswel en bloedrooi. Ons kon sien hy was in erge pyn en kon skaars loop. As hy probeer loop het, het hy vorentoe geval,” vertel Matthee.

Hy sê hulle het ’n vrou, wat in daardie stadium haarself in die huis bevind het, gekonfronteer. Sy het vir die inspekteurs gesê dat die hond aan haar seun behoort en dat sy na die bure uitgereik het om die hondjie te help. Dit het toe ook uitgekom dat die seun Duke se voorpoot met kookwater gebrand het.

Volgens die ma is haar seun glo geestelik versteurd en sy is self bang vir haar seun.

“Die seun, vermoedelik in sy vroeë 20’s, was egter nie tuis nie en kuier na bewering tans by sy pa en vriende in Mpumalanga. Volgens sy ma bly hy soms weke lank weg en weet sy nie wanneer hy gaan terugkeer nie.”

Die DBV het ʼn saak van dieremishandeling teen die seun aanhangig gemaak. “Sodra die seun terugkeer, sal ons die saak verder vat. Die polisie sal hom dan hopelik in hegtenis neem.”

Volgens Matthee het die DBV se veeartse Duke se regterpoot geamputeer omdat hy erge infeksie opgedoen het. Hy is ook tans op sterk antibiotika vir die infeksie wat in sy bloed versprei het.

“Dit gaan al beter met hom, maar hy het nog baie pyn.”

Die DBV het die publiek vir skenkings gevra om Duke se mediese behandeling te help betaal. Klik hier vir meer inligting oor hoe om te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nella ·

Ek dink die ma gee die “geestelik versteurd” net as n verskoning om haar krimineel-van-n-seun te beskerm. Dankie tog vir die bure se seun wat vir hulp gaan soek het. Ek glo ook nie dat die ma die bure gestuur het om hulp te soek nie. Hoop ou woefkind kry n liefdevolle huis want duidelik gaan hy nie terug na daai misbaksel toe nie

JM ·

As ‘n mens na al die gruwelikhede kyk, wil dit voorkom asof daar sommer baie geestelik versteurdes rondloop.

Elmarie ·

Kort-kort iets in Bloem. Wat gaan aan daar? Dalk moet DBV sommer permanent in township kantore hê. Ek kry, kan nie sê hie gereeld SMS’e van hulle vir hulp en ek gee met graagte maar sowaar lyk my die wreedste sg mense is daar

Dirk Mostert ·

Ek dink die vrou lieg: (a) Die seun was binne 50 m van die huis, of (b) sy self was die wreedaard. Ek kan my afsku vir mense wat wreed is teenoor diere nie sterk genoeg uitspreek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.