Man aangekla van moord op sy vrou

Vriende en familie van die Packhams verlaat die Wynberg-hof (5 Maart 2018). Foto: Henk Kruger / ANA

Robert Packham (57) van Constantia in Kaapstad het Maandag in die hof verskyn in verband met die moord op sy vrou, Gill (57).

Gill is op 22 Februarie deur ʼn familielid by die Dieprivier-polisie as vermis aangemeld. Die polisie het later die aand op ʼn brandende BMW by die Dieprivier-treinstasie afgekom. Nadat die vlamme geblus is, is die gebrande liggaam van ʼn vrou in die kattebak van die motor gekry.

Gill is die laaste keer gesien toe sy in haar groen BMW haar huis in Constantia verlaat het. Sy was omstreeks 07:00 op pad na haar werkplek, Springfield Convent School in Wynberg waar sy ʼn administrateur is, maar het nooit daar opgedaag nie.

DNS-toetse het verlede week haar identiteit bevestig. Packham, die algemene bestuurder van Twizza, is Donderdagaand weens haar moord in hegtenis geneem nadat die polisie onverpoos gewerk het in hul ondersoek.

Packham het in die Wynberg-streekshof verskyn waar hy aangekla is van moord en dwarsboming van die gereg.

Staatsaanklaer Brynmor Benjamin het aan die hof gesê die staat sal sy borgtogaansoek teenstaan aangesien Packham kan probeer om bewyse te vernietig.

Die landdros het ʼn versoek van Packham se prokureur van die hand gewys om in aanhouding by die Dieprivier-polisiestasie te bly. Hy sal na die Pollsmoor-gevangenis aangehou totdat hy Vrydag weer in die hof moet verskyn wanneer hy na verwagting formeel om borgtog aansoek sal doen.

Lees die vorige berigte oor Gill Packham op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Dr H ·

Uitslae van DNS toetse in minder as ‘n week, terwyl daar steeds geen uitslae van die Mooinooivroue is nie?

Alet ·

DNS toetse kan so vinnig gedoen word as daar mannekrag is – ek is seker hulle het gebruik gemaak van n private maatskappy om dit te doen.

jaco ·

Alweer dieselfde patroon: wit mens word vermoor en ‘n wit naasbestaande word dadelik verdink. Dis nie polities korrek om die ware moordenaar van ‘n wit mens te soek en te vang nie. Dis asof ons regstelsel “bly” is oor elke wit mens wat vermoor word.

Freud ·

Maar dit was ‘n wit man man….. tensy sy met ‘n ander man getroud was. Dit se tog uitdruklik dat dit haar man was wat in hegtenis geneem is . Robert Packham.

Hannelie ·

Dis ‘n wit mens wat sy vrou vermoor het. Toevallig word haar man van die moord verdink….dis seker logies. En daar word swart boere ook vermoor, ons lees net nie altyd daarvan nie. Inteendeel daar word TE veel mense vermoor vir niks.

jaco ·

Mooinooi vroue het ‘n plaas besit. Hulle dood maak latere onteiening sonder vergoeding soveel makliker. So waarom nou omgee oor DNS-toetse?

Riouna Martin ·

Presies dit is wat ek ook graag wil weet hoekom vat Mooinooi se DNS so lank?

Kobus ·

Daardie twee pragtige dogters sal op n stadium gaan trou, maar sonder n ma wat help met troureelings, trourok, raad gee ens…en dalk ook sonder n pa wat hulle die kerk moet inbring … Vanmore ontglip die woorde om die tragedie & hartseer van ons hedendaagse lewe korrek te bewoord……

DS ·

Ag regtig Jaco hierdie is ‘n familie moord en JY wil dit nou draai om na ‘n rassemoord te lyk. Nie almal wat vermoor word word deur anders kleuriges vermoor nie. BAIE keer is familielede betrokke. Wonder net wat gaan aan dat soveel mans deesdae hulle vrouens vermoor?

zunette du toit ·

Heiden wat makeer die manne om hulle vrouens so te vermoor

Ekke ·

Wat op die aarde gaan aan met mense deesdae? Ek lees op ‘n ander webwerf dat hierdie man gister gehuil het in die hof – as jy dit gedoen het, meneer, moes jy mos DINK hulle gaan jou dalk vang. Nou wil jy huil? Daar is regtig ander maniere om jou probleme op te los. My hart breek vir hierdie man se 2 kinders, dis verskriklik.

Denise ·

Ek is woedend so n pragtige vrou wat moes boet met haar lewe en dit deur haar man wat sy vertrou het met haar lewe daarvoor het jy n lewensmaat wat jou kan ondersteun , vertrou , lefhet maak nie saak wat gebeur nie !!!!!

Ray ·

Hannelie, DS, Zunette en Denise, dit lyk my julle het hom klaar skuldig bevind. Dit is’n ongelooflike groot tragedie, maar ons as publiek kan ook nie die man skuldig bevind voor die bewyse uitgekom het nie.

Dit se dat sy 7 uur die oggend laas gesien is, en die brandende BMW is die aand gekry (Nog aan die brand soos ek aflei vd artikel). Enigiets kon gebeur het.

En moet my nie verkeerd verstaan nie, ek verdedig hom glad nie, maar ek dink die feite moet eers aan die lig kom voor mens besluit hy is skuldig, en as dit hy was dan stem ek, die kinders ly daaronder en ek voel diep binne vir hulle, maar die gereg moet sy gang gaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.