Man aangekla van poging tot moord op niggie

(Argieffoto)

ʼn 31-jarige man is Dinsdagaand in die Vrystaat in hegtenis geneem nadat hy glo sy 19-jarige niggie met ʼn mes gesteek het.

Die man is deur die polisie se honde-eenheid in Bethlehem vasgetrek nadat hy vroeër die aand sy niggie gesteek en toe van die toneel gevlug het.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder van die Vrystaat, het gesê die man sal Vrydag in die landdroshof in Bethlehem verskyn op aanklag van poging tot moord.

“Daar word beweer dat die slagoffer op die betrokke dag besig was om skottelgoed te was by haar huis in Bohlokong, wat sy met ander familielede deel. Volgens dié familielede het hulle buite gesit toe hulle haar hoor skree en gesien hoe die verdagte die huis verlaat,” vertel Mbambo. “Hulle is die huis binne om ondersoek in te stel en het die slagoffer in ʼn plas bloed op die vloer aangetref.”

Die slagoffer het aan die familielede vertel dat haar nefie haar probeer verkrag het en daarna met ʼn mes gesteek het toe hy dit nie regkry nie. Volgens Mbambo is die slagoffer in ʼn kritieke toestand en met verskeie messteekwonde na die naaste hospitaal geneem. “Die polisie is in kennis gestel en die verdagte is kort daarna in hegtenis geneem terwyl hy in die straat gestap het,” sê Mbambo.

Sy sê dit is moontlik dat nóg aanklagte by dié van poging tot moord gevoeg kan word omdat die polisie eers die ondersoek sal voltooi wanneer die slagoffer genoegsaam herstel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarel ·

Kom ons kyk wat hierdie ou se vonnis gaan wees indien skuldig bevind? Onthou die klag is slegs ” poging” tot moord.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.