Man bedrieg glo slagoffers uit derduisende rande

Van die pamflette waarop daar beslag gelê is. Foto: Verskaf.

ʼn Man van Uganda (41) het verlede week in die Bloemfontein-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog nadat hy glo talle mense uit hul pensioengeld bedrieg het.

Sers. Sinah Mpakane, woordvoerder van die polisie, het gesê Kasoma Twaha Luyima is op 19 September in hegtenis geneem ná ʼn soektog by ʼn huis in Fleurdal.

“Die polisie het beslag gelê op vervalste R100-note ter waarde van R33 100 en bokse vol pamflette,” het Mpakane gesê.

Die saak is tot 28 September uitgestel wanneer Luyima na verwagting aansoek sal doen om borgtog. Hy bly in aanhouding tot dan.

Die polisie het in dieselfde asem by mense gepleit om versigtig te wees vir mense wat hulle as fortuinvertellers of tradisionele genesers voordoen. Volgens die polisie word die slagoffers eers aangesê om uit hul werk te bedank en al hul pensioengeld na die persoon te bring sonder om ʼn woord daaroor teenoor enigiemand te rep.

“As die slagoffer dan ná ʼn spesifieke aantal dae [soos deur die bedrieër voorgesê] teruggaan, is die persoon nêrens te vind nie.”

Volgens Mpakane is een so ʼn slagoffer (53) aangesê om uit sy werk in ʼn regeringsdepartement te bedank en R2 miljoen van sy pensioengeld te onttrek. Die man het glo beloof om dit vir die man te verdubbel.

“Hy het toe die geld na die verdagte gevat wat op sy beurt die geld in ʼn boks gesit het en die slagoffer gevra het om ná twee dae weer terug te keer. Toe die slagoffer by die toneel opdaag, was die man weg en sy foon is geantwoord deur iemand wat beweer hulle weet glad nie van die transaksie of waar die man hom bevind nie,” het Mpakane gesê.

Nóg ʼn slagoffer het R480 000 van haar pensioengeld onttrek nadat sy gehoor het dat haar voorvaders dit vir haar sal verdubbel. “Die geneser het vir haar ʼn toegesluite geldkissie gegee [sy het gedink die geld is binne-in] en aangesê om dit ná drie maande oop te maak. Ná die drie maande is sy terug na die sogenaamde ‘Dr. Ezra’ wat die sleutels tot die geldkissie gehad het. Die verdagte was weg toe sy terugkeer.”

Die polisie het lede van die gemeenskap wat soortgelyke ervarings gehad het met ʼn ander verdagte versoek om na die Parkweg-polisiestasie te gaan om die verdagte se profiel te gaan besigtig en te kyk of hulle hom kan identifiseer.

Die polisie ondersoek talle soortgelyke sake. Enigiemand wat self ʼn slagoffer was of iemand ken wat op so ʼn wyse geld verloor het, kan die ondersoekbeampte sers. Tsatsi Motseki by 082 526 2589 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Bokkie ·

As jy jou uitgee vir n toffie, moet jy verwag om gekou te word :-)

Katrien ·

Ons het so ‘n kollega verloor by die werk. Hy het net nie weer teruggekom werk toe nie. Ons het vermoed hy was vermoor, totdat hy maande later by ons kom pleit het vir sy werk terug nadat hy met die slenter gevang is.

CHRIS ·

hahahaha, is dit nie n bewys van hoekom ons land is soos dit is nie

CHRIS ·

hahahaha, is dit nie n bewys van hoekom ons land is soos dit is nie

christa ·

kan nie glo dat daar nog steeds mense is wat vir die “rykword” storie val nie. Ek’t gedog almal het teen die tyd meer verstand. Almal wil jou net indoen

GM ·

Bring daai geldjies vir my! Ek het ook ‘magic powers’. Ek weet nou nie van verdubbel nie, maar ek kan dit laat verdwyn ?

Gert ·

En daai einste mense maak besluite namens Suid -Afrika skokkend as hulle nie eers hulle eie geld kan oppas dan is dit verstaanbaar hoekom dit gaan in die dept soos dit gaan.

haha ·

Sjoe, lag ek nou te lekker!!
Is dit die einste voorvaders wat glo kan sien waar hulle die kruisie by die stembus trek (volgens zuma) en indien die kruisie nie by anc blokkie is nie, sal die voorvaders vir hulle teenspoed/ongeluk stuur

Theresa ·

Liewe aarde! Dit maak mens bang as daar mense is wat 2 miljoen kan trek vir so iets!!! Hoop nie sulke mense is besluitnemers nie – wow!!

Toffie ·

LMGA . NEE WRAGTIE .. of jy 20 of 80 is . . jy moet weet hierdie is ‘n SCAM … waar in jou lewe het jy al sulke snert gehoor?

zis ·

Ja, die man is definitief `n toffie gewees. As mens so maklik kan ryk word, hoekom werk so baie mense dan?

Heidi Lundie ·

Volgens die wet mag mens net 1/3 van jou pensioen onttrek as jy uit ‘n werk bedank. Die res moet oorgedra word na n ander pensioenfonds, so as mens R2 miljoen KAN onttrek is jou pensioen ten minste R6 miljoen sterk, Iemand wat soveel geld verdien om so groot pensioen te kan he en nog nie eens by aftree ouderdom is nie BEHOORT slim genoeg te wees om van beter te wees. Dit is duidelik dat nie almal in hoë poste vreeslik slim is nie!

Cherokee ·

Op 53 was hy nog nie ‘pensioenwaardig’ nie en moes dus (miskien bedank) die hele bedrag onttrek minus belasting. Die feit dat hy nog nie 55 was nie verander dus jou syfers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.