Man been kwyt ná dokters hom ontslaan

Johan Dettman se been is in September vanjaar geamputeer (Foto: Verskaf(

’n Man van Klerksdorp, Noordwes, is sy werk en gesin se enigste inkomste kwyt, nadat sy regterbeen in September tot by sy kuit geamputeer moes word weens ’n bakteriële infeksie.

Volgens Johan Dettmann (36) kon ’n amputasie moontlik verhoed gewees het as die dokters hom betyds diagnoseer en behandel het. In stede hiervan het dokters Dettmann net ’n week voor die amputasie huis toe gestuur en gesê als lyk goed, al was sy voet toe reeds pers van kleur en opgeswel.

Hy moes boonop ʼn week later in die teater luister hoe hulle sy been afsaag en het gesien hoe dokters sy been in ‘n staal blik gooi.

Die infeksie het aanvanklik by Dettmann se regtertoon begin, vermoedelik as gevolg van die staalpunt van sy werkskoene wat teen sy toon geskaaf het. Dettmann, ʼn pa van twee jong kinders, het as algemene werker by ’n dieseldepot in Bloemhof gewerk.

Dettmann is ook ’n tipe 1-diabeet. Dokters vermoed hy het bakteriële infeksie gekry weens bakterieë in sy skoen en dat dit deur die diabetes vererger is.

“Die staalpunt het my toon oopgeskaaf. Ek het die wond toegemaak en gehoop dit word gesond. Die wond het groter geword totdat ’n kwart van my groottoon later weggevreet was,” vertel Dettmann.

Dettmann se toon is op 13 Augustus in die Tshepong-hospitaal in Klerksdorp geamputeer.

“Die infeksie het my vleis tot op die been gevreet. Die dokters het ’n stuk van die vleis en been rondom my groottoon ook afgesny om te voorkom dat die infeksie na die res van my voet versprei.”

Dettmann is twee dae later ontslaan en sy vrou, Yolandi (34), het sy toon by die huis gedokter.

“Dit het aanvanklik gelyk asof die wond genees. Drie weke ná die amputasie het die wond ’n pienkerige kleur begin vertoon. Dit het ons eers nie gepla nie, want die wond was nie geswel nie en het ook nie gestink nie. Dit was eers toe die vel rondom die wond begin pers word en swel, dat ons bekommerd geraak het.”

Volgens Dettmann het daar ook sug uit sy wond gekom.

Dettmann sê hy is die eerste naweek van September hospitaal toe sodat die dokters sy voet kon ondersoek.

“Die dokters het my op ’n drup gesit en ek het my voet vir 45 minute lank in water met Betadine-ontsmettingsmiddel gehou. Die dokters het my verseker dat die sug sal uitkom en het my huis toe gestuur. Hulle het gesê als sal fine wees.”

Johan Dettman probeer elke dag nog gewoond raak aan sy nuwe lewe met net een been (Foto: Verskaf)

Die Tshepong-hospitaal het aan Maroela Media bevestig dat Dettmann dié dag in die hospitaal behandel en toe ontslaan is.

Dettmann se toestand het egter net vererger en hy is ’n week later weer hospitaal toe. Hulle het hom opgeneem en sy been is op 15 September geamputeer.

“Dokters het my teater toe gestuur en gesê hulle wil my voet oopsny en kyk wat aangaan. Hulle het ’n epidurale inspuiting gegee sodat ek niks voel nie.

“In die teater het ek gehoor hoe die dokter sê hulle sal my been moet amputeer omdat die infeksie verder versprei het. Ek het die reuk van gebrande vleis geruik en gehoor hoe hulle my been afsaag. Die volgende oomblik het ek gesien hoe hulle my been in ’n staalblik gooi.”

Dettmann sê hy vermoed die dokters het met die amputasie van sy toon van die infeksie in sy vleis gemis, wat toe verder versprei het.

Die hospitaal het egter aan Maroela Media gesê Dettmann is reeds vóór die operasie ingelig dat sy been afgesit sal moet word en dat hy die nodige sielkundige voorbereiding hiervoor ontvang het, voordat die been afgesit is.

Die hospitaal het by monde van sy woordvoerder bevestig dat Dettmann se been afgesit moes word, aangesien die wond septies geraak en gangreen opwaarts in sy been versprei het. Mediese personeel is egter van mening dat Dettmann nie sy diabetes behoorlik onder beheer gehad het nie, aangesien sy glukosevlakke besonder hoog was. “Dit is waarskynlik die rede hoekom die aanvanklike wond nie behoorlik genees het nie en later septies geraak het,” het die hospitaal se woordvoerder aan Maroela Media gesê.

Dettmann erken dat hy nie altyd die nodige sorg aangewend het om sy diabetes onder beheer te bring nie, en sê dit is omdat hy nie geld het om die regte kos en medikasie te koop nie.

Nuwe lewe met een been

Volgens Dettmann het sy lewe in ’n oogwink verander. Hy kon nie meer sy werk met net een been verrig nie en is gevolglik ontslaan. Hy sukkel intussen om ʼn nuwe werk te kry.

’n Back-a-Buddy-fondsinsameling is vir Dettmann begin om geld in te samel vir ’n prostetiese been, aangesien hy dit nie self sal kan bekostig nie. Dettmann glo as hy ’n prostetiese been kry, sal hy weer in diens geneem kan word en geld verdien om vir sy gesin te kan sorg.

Intussen leef die gesin daagliks van die hand na die mond.

Dettmann en sy vrou is albei werkloos en moet vir twee kinders, onderskeidelik ses en agt jaar oud, sorg.

Dettmann moet elke keer ongeveer R340 vir taxi-geld opdok om hospitaal toe te ry wanneer hy vir opvolgbesoeke vir sy been moet gaan, aangesien die gesin nie ’n motor het nie.

“Ek moes een keer my tekkies verkoop om my taxi-geld te betaal.”

Boonop is Dettmann se beursie en identiteitsdokument in die hospitaal gesteel.

“Sodra ek ’n nuwe identiteitsdokument kry, kan ek vir ’n ongeskiktheidstoelaag aansoek doen.

“Ek is raadop, maar ek bly hoopvol daar sal iewers ’n uitweg wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Shakespeare ·

Die naam en personeel vanTshepong hospitaal vertel die hele verhaal. As ek jy is dien ek ‘n massiewe eis via Afriforum in want duidelik was onbevoegdheid en swak personeel die oorsaak dat jou been afgesit is.

Nie Verbaas ·

En dit is nie die enigste hospitaal wat deur ons liewe ANC lede beman word wat so reputasie het nie. Hulle is pateties om die minste te sê.

Pietertjie ·

Dis dieselfde dokters waarna ons moet opsien oor covid.

bobmartin ·

Hoekom sal n onbevoegde staats beheerde gemors van n hospitaal wat homself n hospitaal noem so nalatig wees? Dan wil mense die regering wat die hospitale beheer vertrou met ander dinge ook. Maar nee. Als wat die President op televisie se is mos die waarheid.

Johann ·

Nog n voorbeeld van die absolute onbevoegde disfunksionele vlak van sorg danksy die mislukte bestuur deur ANC Kaders. En dan wil hulle n Nasionale Stelsel afdwing?

JohanR ·

En om te dink as die nuwe ANC mediese stelsel in werking tree, sal ons almal na hierdie hospitale toe moet gaan al het ons one eie privaat medies. Net die ANC sal Rusland toe gaan vir behandeling.

PieterJ ·

Daardie dag trek ek terug UK toe. Jou lewe word letterlik in gevaar gestel elk keer wat jy na staatshospitaal gaan met ‘n ernstige toestand. Geen manier wat ek my familie se ledemate / lewens so in gevaar stel nie, die tipe dinge gebeur gereeld.

Lida ·

Ek het ook 1ste handse swak, swak diens van n staats hospitaal gekry en dit nogal waar mediese personeel op gelei word. CR jy sal moet uithaal en wys as jy ons staats hospitale wil regruk.

anniekiewiet ·

Ek wil jou woorde so effens aanpas:
CR jy sou moes uithaal en wys as jy ons staatshospitale sou wou regruk….
Maar helaas, waar dit ons eens mooi land aangaan is als tevergeefs.

Casper ·

Ek lees die kommentaar maar net ter inligting.Hy het self erken hy het nie ‘n behoorlike eetplan gevolg nie.Inderwaarheid was hy ook nalatig.Suikersiekte kan nie genees word nie maar beheer word deur medikasie en die regte kosse.

PM ·

Daar is altyd meer as een kant aan ‘n storie.

Bloedsuikerbeheer na enige operasie is ontsettend belangrik, en ‘n hoë suiker verstadig genesing, verswak bloedvloei EN maak die wond ‘n beter broeiplek vir infeksie – as sy suiker nie onder beheer was in daai tyd nie was die verergering basies onafwendbaar. Daar is niks hier wat impliseer dat die dokters dalk iets gemis het nie.

Sonder om te weet hoe die wond gelyk het nie, kan ek nie kommentaar lewer op die behandeling tydens die herbesoek nie – dalk was daar fout.

‘n Been mag nie afgesit word sonder dat toestemming VOOR die operasie by die pasiënt verkry is nie. Amputasie is dus waarskynlik met hom bespreek voor die tyd, al was dit nie die hoofplan nie – as hulle dit nie gedoen het nie, is dit iets waarvoor hulle aanspreeklik kan wees.
Hy het waarskynlik spinale narkose gekry ipv epidurale narkose. Dit is aansienlik veiliger as ‘n algemene narkose (waar ‘n persoon aan die slaap gemaak word) vir ‘n pasiënt met onbeheerde bloedsuiker.

Frank John ·

My ma is destyds deur dieselfde ding. Ook eers toon, toe stuk van die voet toe die been. Dis baie traumaties.

Winnie ·

Dis erg wat hierdie gesin deurgaan sonder inkomste. Hoop daar kom vinnig uitkoms vir hulle

Swerwer ·

Waarom sy werk verloor? Daar is mos hulp middels om mee te loop. Sterkte en moenie moed opgee nie, jy is nog mobiel en kan nog werk.

Eerlik ·

Dis baie traumaties op so jong ouderdom maar versorging en behandeling van diabetes is bitter belangrik. Ek lees ook so van sy vrou en kinders en die tekkies wat verkoop is vir taxi geld om by die hospitaal te kom ens. Mens weet nooit wat in iemand se privaat lewe aangaan en hulle huislike omstandighede nie. Dit bleik dat hy en sy vrou geskei is, haar moeder is in September oorlede en Yolandi (landi_bokka) het n pleidooi op Tiktok gemaak vir fondse om haar moeder te veras. Ek verneem dat Yolandi wel n voertuig besit en drie dae terug n heerlike salon uitstappie saam met haar dogtertjie geniet het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.